STILBAAI NUUS - Sowat 'n jaar gelede het die 8-jarige Jayden Nel van Stilbaai vir sy oupa, Deon van der Merwe, gesê dat hy wil begin blikkies bymekaarmaak.
Deon het onmiddellik die potensiaal daarin gesien, want dit kon die entrepreneur in sy kleinseun wakker maak.
Die twee van hulle het koppe bymekaar gesit en besluit hulle gaan deur die buurt, waar hulle woon, stap en die blikkies wat oral rondlê optel.
Soos wat hulle al verder moes stap om blikkies te kry het hulle besef dat dit nie genoeg blikkies gaan oplewer om dit vir Jayden finansieel die moeite werd te maak nie.
Hulle gesels toe met 'n paar besighede en tans het hulle 'n drom by Engen, een by die gholfbaan en hulle het ook toestemming om al die blikkies by Uniik, Goukou Deli en On The Rocks te vat.
Hierdie blikkies word dan saamgepers deur met Deon se werksbakkie heen en weer oor dit te ry en as hulle 'n groot genoeg vrag het word dit Mosselbaai toe gevat om aan 'n skrootwerf te verkoop.
Volgens Deon is hierdie kleinseun van hom 'n baie flukse mannetjie en hy is gedurig besig om te werk.
Die blikkieprojek leer hom om selfstandig te wees en hoe om met sy geld te werk.
Sy oupa sê dat Jayden meeste van die geld wat hy verdien spaar, maar hy het darem al vir homself 'n fiets gekoop.
Jayden het ook al Laerskool Bertie Barnard se o. 8-krieketspan se kouse geborg en hierdie flukse jong entrepreneur maak nie net geld uit sy projek nie, maar hy help ook om Stilbaai se strate skoon te hou.
Jayden se droom is om eendag 'n Springbok te word, maar as hy sou seerkry en nie meer kan rugby speel nie sal hy 'n polisieman wil wees.
Sy grootste ondersteuner is sy oupa en jy sal die twee van hulle altyd met swart sakke sien, besig om blikkies bymekaar te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’