STILBAAI NUUS - Stilbaai Rolbalklub vier vanjaar sy 60ste verjaardag en 'n weeklange feesviering het Woensdag 11 Junie afgeskop met 'n verjaardagparty vir lede en oud-lede van die klub.
Die dag het begin met 'n verkorte rolbaltoernooi vir die lede en omtrent 30 oud-lede het Woensdagmiddag aangesluit vir die verjaardagpartytjie.
Dup van Renen, president van Stilbaai Rolbalklub, het in 'n emosionele toespraak een en almal bedank vir hulle bydraes oor die jare en daarna 'n heildronk op die klub ingestel.
'n Paar lede het staaltjies uit die verlede opgediep, wat almal natuurlik laat skaterlag het, en daarna was dit tyd vir Dup en Cheryl Worth, vise-president, om die pragtige verjaardagkoek te sny.
Die 90-jarige Adri Siecker, op haar tyd ook 'n gewaardeerde bestuurslid, was die oudste persoon by die verjaardagparty en het met heimwee gepraat van die klub in sy kinderskoene.
Donderdagaand 12 Junie onthaal die klub sy borge met 'n kaas-en-wynfunksie, Saterdag 14 Junie is dit die Presidentsdag-toernooi met besoekende klubs en dan Maandag 16 Junie word die feesvieringe afgesluit met 'n 60's-tema pretdag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’