STILBAAI NUUS - Lank voor sonop is die eerste bote al uit om te gaan soek vir daai kabeljou, Rooi Roman, Bonnito, en talle ander spesies om vanaand op die kole te gooi. Sommiges verkies die rustiger opsie met hulle bootjie op die Goukourivier en nog ander hengel van die strand, rotse of hawemuur.
Op die rivier ski hulle al van sonop af en die kajakke is op en af van die riviermond tot ver anderkant die brug. Die roeiklub het selfs georganiseerde kajak tydtoetse op 'n Dinsdagmiddag.
'n Groot tydverdryf is om die gety te ry op die Goukou. As die gety inkom dryf swemmers van die riviermond af en as hy uitgaan dryf hulle in die rigting van die riviermond.
Branderplankryers kom van ver om die branders in alle weersomstandighede aan te durf en spandeer ure op die water by Morrispunt.
Sodra die wind lekker begin waai is dit tyd vir die vlieërbranderryers om hulle toertjies in die omgewing van die riviermond te doen en dan gly hulle blitsig op en af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’