STILBAAI NUUS - Maandag 19 September was 'n heuglike dag toe die 99-jarige Chris Steytler en sy 96-jarige vrou, Kitty, hulle 75ste huweliksherdenking met 'n vonkelwynontbyt saam met hulle vier kinders gevier het.
Braam Steytler het van Pretoria af gekom, Minnie van Niekerk al die pad van Windhoek af, Elize Botha darem van Stilbaai en André Steytler doer uit Upington om dié besonderse dag saam met hulle ouers te deel.
Daar is 13 kleinkinders en 11 agterklein-kinders, maar almal kon ongelukkig nie teenwoordig wees nie.
Die egpaar is op 19 September 1947 in die Engelse Kerk in Waterval-Boven getroud. Chris was 'n radio-operateur in die Tweede Wêreldoorlog en het sy loopbaan as jong regsgeleerde in Waterval-Boven begin.
Kitty het in die poskantoor gewerk en Chris het by haar ouers loseer. Nou ja, die res is geskiedenis.
Ná Chris se aftrede in 1984 het die egpaar in Swellendam gewoon waar Chris steeds as assessor in die hooggeregshof diens gedoen het. Hy was ook 'n paar jaar burgemeester van Swellendam.
Houtwerk was sy groot stokperdjie en hy het tot in die negentigs nog gholf en rolbal gespeel. Kitty se groot liefde was tuinmaak en sy kon altyd spog met 'n pragtige tuin.
Hulle woon sedert Augustus 2019 in 'n tuinwoonstel by Carewell in Stilbaai en geniet redelik goeie gesondheid vir mense van hul hoë ouderdom.
Die egpaar sê hul resep vir 'n lang lewe en huwelik is aanhou en uithou, onvoorwaardelike liefde, respek en ondersteuning vir mekaar. Kitty sê sy sal Chris vir niemand verruil nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'