STILBAAI NUUS - Dié pragtige kusdorp is pas aangewys as 'n semifinalis in Kwêla se jaarlikse Dorp van die Jaar-kompetisie.
Uit elkeen van die nege streke in Suid-Afrika sal 'n wendorp aangewys word wat dan teen mekaar gaan meeding om die dorp van die jaar te bepaal.
Om Stilbaai as die Wes-Kaapse wenner op dié lys van nege dorpe te kry, sal 'n grootse poging van al Hessequa se inwoners verg. Plaaslike inwoners en die algemene Suid-Afrikaanse publiek, kan nog vir die volgende twee weke vir hul gunstelingdorp uit die drie semifinaliste uit elke streek stem.
Die dorpe met die meeste benoemings sal op 23 en 30 April bekendgemaak word voordat die Wes-Kaapse wenner bekend is.
In die oorblywende twee rondes word net 30 SMS'e per nommer toegelaat. Die dorp met die meeste stemme sal dan as die streekwenner, in Stilbaai se geval die Wes-Kaap, aangewys word om die streek as 'n finalis in die eindronde te verteenwoordig.
Kwêla sal 'n insetsel op elk van die nege dorpies wat die finale ronde gehaal het kom verfilm.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 18:00 op 16 Julie tot 12:00 die middag, 21 Julie, vir die wendorp kan stem. Die dorp met die meeste stemme sal as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys word.
Die wendorp word op 30 Julie op Kwêla aangekondig.
Dié dorp wen 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook 'n groot opskop in die wendorp gehou word met musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorpgees.
Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm en dit sal later die jaar uitgesaai word.
Lottoland het ook 'n verrassing vir die wendorp, wat later aangekondig sal word.
Hoe om te stem:
Al wat jy moet doen is om die woord Stilbaai te sms na 33157 (R1.50 per SMS).
BELANGRIK:
- Alle SMS'e kos R1,50.
- Stemmery sluit op Vrydag 21 April om 12:00.
- Slegs 30 SMS'e word per nommer toegelaat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’