RIVERSDAL NUUS - Die skrywer en kunstenaar Christiaan J de Swardt het pas sy spesiale stemproses suksesvol voltooi.
"Dit was flink en vinnig! Ek het wel geskrik toe 'n polisievoertuig en nog 'n motor vol mense by my voordeur opdaag! Twaalf mense was meteens voor my deur. Almal duidelik gemerk in uniforms: polisie en OVK-amptenare. Ek het veilig gevoel en hulle met 'n oop gemoed ingenooi!"
Na die geldigheid van sy ID-dokument nagegaan is, het hy die drie stembriewe ontvang en is hy toegelaat om privaat sy keuses te bepaal en sy drie kruisies te trek.
"Dit was maklik en glad nie so verwarrend nie. Jy kon duidelik tussen die hordes politieke partye en 'n handvol onafhanklike kandidate onderskeid tref. My drie stembriewe is in twee koeverte geseël en, in my geval, is my naam en ID-nommer nie op die koevert geskryf nie. Party kiesers is bekommerd oor daardie gebruik wat wel voorkom.
Volgens die OVK is dit slegs ter wille van administratiewe dokumentasie. Dit het slegs die spesiale stemme gegeld. Al daardie koeverte sal vernietig word. Dit is nie nodig om daaroor bekommerd te wees nie. Jou stem bly jou geheim."
De Swardt is uiters tevrede met die verloop. "My stembriewe is voor my in die blou houer geplaas en toegerits en daarna onder polisiebegeleiding na veiligheid geneem om later getel te word. En, o ja: my linkerduim is met swart ink gemerk..."
Sy boodskap is: "Moet nie toelaat dat jou mond gesnoer word nie: peins, besin en stem reg!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’