STILBAAI NUUS - Die Speaker van Hessequa-munisipaliteit se raad, Andrew Stroebel, was Maandag 11 April die gasspreker by Stilbaai-sakekamer se sakeontbyt by die Stilbaai-gholfklub.
Stroebel het die sakegemeenskap toegespreek oor Hessequa se planne om die plaaslike ekonomie te stimuleer.
Daar word geraam dat Hessequa ongeveer 62 000 permanente inwoners het. Die jongste sensus, wat tans gedoen word, sal meer lig hierop werp.
Die munisipaliteit het 584 permanente werknemers en het nou reeds agt agtereenvolgende skoon oudits gekry.
Stroebel sê dat Hessequa se bedryfsbegroting, R618 678 345, byna agt keer groter is as die kapitaalbegroting van R86 846 896, maar inwoners staar hulle soms vas teen die kapitaalbegroting wat goed insluit soos die bou van paaie, herseël van teerpaaie, opgradering van rioolwerke, sportfasiliteite, ens.
Die bedryfsbegroting sluit in salarisse en lone, vullisverwydering, verskaffing van water en elektrisiteit en baie ander soortgelyke bedryfsuitgawes.
Baie dorpe
Inwoners moet ook in gedagte hou dat Hessequa bestaan uit Stilbaai wat insluit Melkhoutfontein en Jongensfontein, Riversdal, Heidelberg, Witsand, Slangrivier, Albertinia en Gouritsmond - en al hierdie gemeenskappe moet dieselfde kwaliteit dienste ontvang.
Dit lyk dus soms asof niks in 'n dorp gedoen word nie, maar die munisipaliteit is op daardie stadium moontlik elders besig met projekte en word dit per dorp uigerol.
Die raad verseker dat niemand voorgetrek word nie en besluite word volgens tegniese meesterplanne en die raad se finansiële plan geneem.
Na oorweging is besluit dat die munisipaliteit geen eksterne lenings sal aangaan hierdie jaar nie, want dit sal net ekstra druk plaas in 'n tyd wat Covid steeds sy tol eis en die oorlog in Oos-Europa die wêreldekonomie ruk.
Die munisipaliteit moet soos 'n besigheid bedryf word en niemand sal tog wil belê in 'n bankrotbesigheid of wil kom bly in 'n bankrotmunisipaliteit nie.
Tariewe
Wat tariefverhogings betref het die munisipaliteit in konsep besluit om vullisverwydering, water en sanitasie se tariewe met 6% te verhoog.
Diesel se prys sowel as die van chemikalieë het die hoogte ingeskiet te danke aan Rusland se inval van Oekraïne, maar die munisipaliteit sal dit intern moet absorbeer.
Die voorstel is om elektrisiteit met gemiddeld 7,36% te verhoog en eiendomsbelasting met 5%. Vir bonafide landbou en gaste-akkommodasie eenhede is daar geen verhoging van eiendomsbelasting nie.
Mense kla oor die hoë tariewe, maar Stroebel sê jy moet vra of jy waarde vir jou geld kry.
Een van die top ekonomiese drywers in Hessequa is kleinhandel en Stroebel reis deur die streek om soveel moontlik kleinhandelaars te besoek om uit te vind wat hulle probleme is, en te beaal wat hulle beplan.
Hy bedank hulle dan ook vir hulle belegging te Hessequa.
Die informele handel is 'n groot probleem vir die formele sektor en hulle sal oorreed moet word om die formele sektor te betree. Dit sal meer belasting vir die staat verseker en ook regulering vergemaklik.
Ten slotte sê Stroebel dat die munisipaliteit in veilige hande is en sakemense met geruste harte kan belê in hulle besighede. Elke sent sal aangewend word vir sy beplande doel.
Toerisme
Anton Pieterse, 'n sakeman van Stilbaai, sê dat toerbusse na Stilbaai gelok moet word en vra dat sakelui en die munisipaliteit saamwerk om dit te bewerkstellig. Rachel Wall noem hierop dat die munisipaliteit se toerisme-afdeling, Stilbaai-sakekamer en Stilbaai-toerisme werkswinkels hou om toeriste na Stilbaai, maar ook die breër Hessequa, te lok.
Kim Boezaart van 'n plaaslike gastehuis het gesê dat Stilbaai geweldig vinnig uitbrei. "Ons sal iets moet doen om die werkmag op te lei, want dit is nog 'n leemte in Stilbaai.
Ons moenie wag vir die Seta om uit sy blokke te kom nie."
Wall noem die Garden Route-distriksmunisipaliteit het wel 'n program "Mega Skills Development" en die Stilbaai-sakekamer het nou verteenwoordiging by die gesprekke om dit in Stilbaai te implementeer.
Wall het Stroebel bedank vir sy tyd en sê die gesprekke wys dat die tyd vir aksie nou is. "Vergeet Covid. Vergeet Putin. Sit skouer aan die wiel en laat dinge gebeur."
Die sakeontbyt is by die Stilbaai-gholfklub gehou.
Andrew Stroebel en Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'