HESSEQUA NUUS - Die son het wel die sneeusluier oor Riversdal se pragberg, die Slapende Skoonheid, gesmelt, maar die snerpende koue is nog nie verby nie.
“Die stormweer is nog nie verby nie en daar wag nog heelwat koue dae vir ons. Geen ernstige voorvalle van infrastruktuurskade, veeverliese of sterftes is weens die gure weer aangemeld nie.
In Slangrivier het ? buitemuur omgeval en in Riversdal het die Novo- en Vetterivier-plaaslyn windskade opgedoen. Dit is intussen herstel. 'n Klompie huishoudings in die streek is op versoek bygestaan om ongerieflike omstandighede te verbeter,” sê Didi Budricks, die hoofskakelbeampte van die Hessequa-munisipaliteit.
Die streek se inwoners het lanklaas só koud gekry. Reën en, veral stormsterkwinde, het gewoed en gemoedere belemmer.
Dié naweek kan inwoners egter vuurwarm temperature verwag: Saterdag, tot 31 grade in die streek.
Die lente loer en die somerson wil-wil skyn.
Helaas, die Suid-Afrikaanse weerburo in Bloemfontein voorspel nóg koue en reën tot in die eerste week van Oktober vir die Wes-Kaap.
Moet dus nie té gerus wees nie.
Budricks hét wenke:
• Die belangrikste is om binne te bly en nie onnodig rond te ry nie. As jy buite móét wees, bly weg van bome en losstaande voorwerpe en kragdrade wat kan omwaai. Moenie op lere klim en op dakke werk wanneer die wind woes waai nie. Vermy veral die see.
• Om binne te bly, is die beste en veiligste. Wisseling in temperatuur van warm na koud kan jou gou siek maak. Probeer om die temperatuur in jou huis konstant te hou. Hou vensters en deure sover as moontlik toe. Indien die krag sou afgaan, moet die elektriese netwerk te alle tye as lewendig beskou word.
Sy gee die versekering dat Hessequa se rampbestuur paraat is en dat die personeel van die afdeling gemeenskapsveiligheid gereed is om bystand te verleen.
• Meld voorvalle aan en vra vir hulp by die Hessequa-beheerkamer: 028 713 7917 of 028 713 2222 en via WhatsApp by 084 014 1828.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’