HESSEQUA NUUS - Landwyd het grade R-, 6- en 11-leerders ook nou na die skoolbanke teruggekeer. Suid-Kaap Forum het by 'n paar skole navraag oor hoe dit verloop het, gedoen.
Lindie Bosman, ontvangsdame by Laerskool Volschenk op Riversdal, sê hulle was al so geoefen in al die prosedures dat die aansluiting van die graad 6-groep op Maandagoggend, 6 Julie sonder enige haakplek verloop het.
Anneli Booyens, hoof van Hoërskool Albertinia reken ook die proses was seepglad omdat almal gedoen het wat hulle moes. "Almal weet al presies wat gedoen moet word en wanneer en almal het saamgewerk." Grade R, 6 en 11 het by dié skool by die grade 7- en 12-leerders wat sedert Junie weer skoolgaan, aangesluit.
Die hoof van Melkhoutfontein Primêre Skool, Ruby Flores, sê 'n hele paar van hul leerkragte kon nie by die skool wees nie en hulle het slegs grade 1- en 2-leerders terug ontvang.
Alles het egter vlot verloop en skoolbywoning is oor die algemeen goed, volgens haar.
By Kairos Senior Sekondêre skool op Heidelberg was sekretaris Antoinette Windvogel baie tevrede met hul leerders. "Die graad 11's het voltallig opgedaag en met uitstekende samewerking gesorg dat die hele proses blitsvinnig afgehandel was."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'