RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum se plek as die tweede beste gratis koerant in Suid-Afrika by vanjaar se Avbob Forum of Community Journalists (FCJ)-toekennings is 'n belangrike erkenning - nie net van die koerant se joernalistiek nie, maar van die hele span wat week ná week saamwerk om 'n kwaliteit publikasie aan lesers te lewer.
Die gesogte FCJ-toekennings is Vrydag 21 Augustus by Menlyn Maine in Pretoria aangebied, waar die beste gemeenskapsjoernalistiek van regoor Suid-Afrika gevier is.
Vir Suid-Kaap Forum is die tweede plek 'n bewys dat sterk, onafhanklike en gemeenskapsgerigte plaaslike joernalistiek ook vanuit die Suid-Kaap op 'n nasionale vlak kan meeding.
Agter dié prestasie staan egter veel meer as net 'n naam op die voorblad. 'n Suksesvolle koerant is die resultaat van 'n span waarin elke persoon 'n belangrike rol speel.
Die stories wat uiteindelik in die koerant verskyn, begin by die mense wat op die grond is om nuusgebeure raak te sien, stories uit te snuffel en foto's te neem.
By Suid-Kaap Forum word dié taak onder meer deur joernalis Johan Victor en vryskutjoernalis Clive Pretorius behartig.
Nadat die stories geskryf is, moet die taal versorg word. Emsie Martin, voorheen van Suid-Kaap Forum en tans subredakteur van Suid-Kaap Forum, George Herald en Oudtshoorn Courant, sorg dat die berigte taalkundig versorg en gereed is vir publikasie.
Daarna kom die belangrike visuele kant van die koerant ter sprake. Periëtte Nel, die grafiese kunstenaar, gee die koerant sy finale voorkoms en sorg dat stories, foto's en advertensies professioneel op die bladsye aangebied word.
Suid-Kaap Forum is vanjaar ook as 'n finalis vir beste agterblad aangewys.
Geen koerant kan egter sonder advertensies voortbestaan nie.
Juan-Maré Conradie speel 'n belangrike rol deur advertensies te bekom, terwyl Sade Rossouw ook geklassifiseerde advertensies verkoop, die kantoor se telefoon beantwoord en administratiewe take hanteer.
Die redakteur se rol strek verder as net die skryf van stories.
Die redakteur bepaal watter nuus in die koerant verskyn, skryf en redigeer berigte, ken stories aan bladsye toe en bepaal die nuusfokus van die publikasie.
Eers wanneer al hierdie skakels in plek is, kan die koerant se plate gemaak en die publikasie gedruk word.
Daarna word die koerante vanaf George vervoer om betyds Vrydagoggend by meer as 3 000 lesers per week in die Suid-Kaap afgelewer te word.
Dit is dié spanpoging wat Suid-Kaap Forum vanjaar tot 'n nasionale tweede plek gedryf het.
Ander publikasies
Die prestasie vorm deel van 'n besonder sterk vertoning deur Group Editors, met verskeie van die maatskappy se publikasies wat by vanjaar se nasionale toekennings erkenning ontvang het.
George Herald het besonder sterk gevaar.
Joernalis Michelle Pienaar is as Joernalis van die Jaar aangewys.
Sy het ook tweede plekke in digitale verslaggewing en munisipale verslaggewing behaal, asook derde plekke vir selfoonfotografie en opskrifte.
Haar kollega Kristy Ayliffe het die selfoonfotografie-kategorie gewen en vierde plek in Storie van die Jaar behaal.
George Herald is ook tweede aangewys in die kategorie vir beste verkoopkoerant.
By Mossel Bay Advertiser het redakteur Louise Karsten tweede plek in redaksionele kommentaar en rubrieke behaal.
Die koerant het ook tweede plek vir beste agterblad en vierde plek vir beste koerant behaal.
Knysna-Plett Herald se redakteur Wyndham Ewerts het derde plek vir opskrifte en vierde plek vir redaksionele kommentaar en rubrieke behaal.
Servaas de Kock, uitvoerende hoof van Group Editors, het gesê die prestasies is 'n besondere eer vir die maatskappy en sy joernaliste.
"Dit is 'n ongelooflike voorreg om op 'n nasionale platform erkenning te ontvang, en ek is trots op elke finalis en wenner wat so goed gevaar het," het hy gesê.
Vir Suid-Kaap Forum is die toekenning meer as net 'n tweede plek.
Dit is 'n erkenning van die hele span se harde werk, toewyding en passie om elke week die beste moontlike gemeenskapskoerant aan lesers te lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’