HEIDELBERG NUUS - Aan die suidpunt van Suid-Afrika, geleë tussen Riversdal en Swellendam kruip 'n klein dorpie, Heidelberg, weg.
Mens kan hom maklik mis ry.
Wanneer jy van die N2 afdraai en dieper in die dorp inry, is daar 'n winkel met die naam Ons Winkel. Dié winkel het op 15 Maart 2021 by die Aan de Kanal-gaste-huis oopgemaak. Sentraal geleë is dié klein baken van hoop.
Anna-Marie Hughes het dié winkel, net ses maande ná haar eerste Ons Winkel in Riversdal, oopgemaak. Sy is 'n lid van die Solidariteit Helpende Hand Riversdal-tak en is baie aktief in die gemeenskap.
Hierdie winkel het al 'n paar mense uit die gemeenskap van goeie tweedehandse klere en beddegoed voorsien.
Kokkie Swart, wat 'n groot hart vir Helpende Hand het, is aangestel net toe die winkel oopgemaak het en dit 'n rukkie aan die begin bedryf. Kokkie is na 'n jaar, wat sy ander verpligtinge gehad het, weer terug in die winkel waar sy haar passie vir mense en Helpende Hand se Ons Winkel kan uitleef.
Die gemeenskap gee donasies in die vorm van tweedehandse klere, linne, beddegoed, huishoudelike ware en allerhande skatte wat teen 'n appel en 'n ui verkoop word.
Die inkomste wat die winkel genereer, stel Solidariteit Helpende Hand in staat om maatskaplike projekte in die gemeenskap uit te rol vir Helpende Hand-streekpersoneel, taklede en vrywilligers, asook vir rentevrye studielenings vir behoeftige studente en vele ander welsynsfunksies.
As jy graag 'n verskil in die gemeenskap wil maak, skenk jou ongebruikte items of enige ander items wat in jou pad staan aan Ons Winkel Heidelberg wat alle items met respek en waardigheid hanteer en dan weer vir 'n goeie doel verkoop.
"Skenk vir hoop, koop vir 'n toekoms, saam maak ons 'n verskil, " sê Kokkie.
Gaan loer gerus op hul webtuiste, www.onswinkel.co.za om 'n verskil te maak.
Anna-Marie Hughes (links), taklid van die Solidariteit Helpende Hand, en Kokkie Swart wat 'n groot hart het vir Helpende Hand se Ons Winkel in Heidelberg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’