GOURITSMOND NUUS - ’n Totaal van 84 spelers het Vrydag 22 Augustus die sterk wind trotseer om aan die Gouritsmond-jukskeiklub se jaarlikse ope dag deel te neem.
Altesaam 21 spanne van Groot-Brak, Hartenbos, Danabaai, Boggomsbaai, Gouritsmond, Albertinia, Stilbaai en Riversdal het kragte gemeet en hul mik vermoë getoets in ’n dag vol sport en spanpoging.
In die B-afdeling, waar vyf spanne meegeding het, het Riversdal met 33.5 punte die wenplek ingeneem, kort op die hakke gevolg deur Hartenbos met 32.5 punte.
Danabaai B1 het derde geëindig met 30 punte.
Die C-afdeling het groot opwinding gebring met 16 spanne wat om punte meegeding het.
Hier het Groot-Brak C1 met 39 punte die oorwinning behaal, terwyl Stilbaai C1 tweede geëindig het op 36.5 punte, en Gourits C2 die derde plek losgeslaan het met 35 punte.
Die jukskeikalender is steeds vol aksie, met Danabaai-jukskeiklub wat op Saterdag 30 Augustus die volgende ope dag aanbied.
Hier sal die buurdorpe mekaar weer die stryd aansê vir die hoogste eer op die jukskeibaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’