STILBAAI NUUS - Die woeste see van Saterdag 16 September het vyf van die braaiplekke by Morrispunt in Stilbaai totaal vernietig en 'n verdere twee is erg beskadig.
Met die Desember-vakansie wat net om die draai is, is almal bekommerd dat daar nie braaigeriewe gaan wees nie en jy kom tog nie al die pad uit die noorde om by jou vakansiehuis te braai nie.
Hessequa-munisipaliteit en die Stilbaai Sakekamer was egter alreeds in gesprek en hulle gaan alles in hulle vermoë doen om die braaiplekke te herstel en vervang.
Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die grondwerke en hulle sal dus heelwat dringende herstelwerk daar moet doen aangesien heelwat grond en sand eenvoudig verdwyn het of weggeskuif is.
'n Bekommerde inwoner van Stilbaai het die voorstel gemaak dat die nuwe braaiplekke eerder aan die land se kant van die pad gemaak word aangesien alle aanduidings is dat hierdie weerpatroon hom weer gaan herhaal met korter tussenposes.
Alhoewel die munisipaliteit hulle beywer om die stormskade te herstel, doen hulle 'n beroep op inwoners en sakelui om hande te vat met die munisipaliteit met die herstel van infrastruktuur wat voorheen deur hulle onderhou is.
Stilbaai Sakekamer het 'n formele ooreenkoms met die munisipaliteit om die braaigeriewe by Morrispunt te onderhou en is reeds besig met gesprekke om te bepaal watter struktuur en ontwerp die doeltreffendste sal wees, gegewe die hoë instandhoudingskoste van die bestaande strukture.
Die sakekamer doen dan ook 'n beroep op alle bestaande borge, asook diegene wat belangstel om 'n finansiële bydrae te maak vir die herstel van die geriewe, om met hulle in verbinding te tree. Die epos adres is stilbaaisake@gmail.com.
Die pad by Morrispunt is weggekalwe en die bankie met sy betonvoetstuk is op die pad neergesit deur die sterk golwe.
Braaiplek by Morrispunt.
Die water het die boonste deel en die tafelgedeelte weggespoel.
Platklip se braaiplekke en bankies kon ook nie die geweld van die see vryspring nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’