RIVERSDAL NUUS - Die stof in dié dorp se sakekern gaan blykbaar nog nie gou lê nie.
En dié Sondag (5 Mei) gaan daar ook nie elektrisiteit hier en in die omliggende gebiede beskikbaar wees nie.
Die Hessequa-munisipaliteit het ‘n beplande kragonderbreking aangekondig in die projekverloop om die elektrisiteit-infrastruktuur op te gradeer en te verbeter.
Verskeie aangekondigde spertye (sedert Maart) om die projek te voltooi, het intussen weens “weersomstadighede” misluk en die ongerief en verliese vir sake-ondernemings en inwoners duur voort.
Dié Sondag sal daar van agtuur die oggend tot vyfuur die middag geen elektrisiteit in die sakekern beskikbaar wees nie - om die kontrakteurs die geleentheid te gee om die ondergrondse lae toevoerspanning te aktiveer en die ondernemings deur middel van die verskeie substasies op sypaadjies te verbind.
Suid-Kaap Forum het vandeesweek by verskeie ondernemings ingeloer om kommentaar hieroor te verkry. Die eienaars en bestuurders verkies om anoniem te bly. Party is geensins geraak nie en ander erken: “Ons omset is ‘erg seergemaak’ – veral oor die gebrek aan veilige parkering voor ons ondernemings. Mense was bloot nie bereid om hul voertuie op die onderbeligte en onbewaakte markplein te parkeer nie.”
Van die ondernemings wat juis Sondae oop is om werkende mense die geleentheid te bied om ná ‘n druk werkweek rustiger op ‘n Sondag inkopies te doen, geriefsgeregte vir ‘n Sondagmiddagmakietie te koop of om ‘n rukkie by ‘n kuierplek te ontspan voordat nóg ‘n uitdagende Maandag en onvoorspelbare week voorlê, sal moontlik Sondag gesluit wees.
Lewensnoodsaaklike apteke dalk ook.
Afhangende van die onderneming se dienslewering kan dit tot R1 000 se diesel verg om ‘n kragopwekker vir vyf uur lank te laat dreun. Die meeste ondernemings kan daardie uitgawe nie bekostig nie.
Die ondernemings in die volgende strate word beïnvloed: Dickson, Barry, Pres CR Swart, Van den Berg en Mitchell. Kerkstraat word ook erg hierdeur geteiken.
Dit is belangrik om daarop te let dat die netwerk te alle tye as “lewendig” beskou moet word.
Jy is self vir jou veiligheid aanspreeklik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’