STILBAAI NUUS - Die algemene jaarvergadering van Stilbaai Belangeforum (SBF) op Maandag 12 Februarie het 'n stampvol saal by Palinggatoord getrek.
Erf 657 oorkant die munisipale kantore, wat langs Hoofweg-Wes vanaf die Jongensfonteinpad tot by die gholfbaan in Arendstraat strek, wat een van die punte onder bespreking was, het groot belangstelling onder inwoners gewek.
Volgens Hessequa-munisipaliteit se direkteur van ontwikkelingsbeplanning, Hendrik Visser, bestaan daar tans nie by die munisipaliteit 'n behoefte om die erf binne die volgende 10 na 20 jaar te ontwikkel nie.
'n Botaniese studie sal eers gedoen moet word om te bepaal watter grond geskik is vir ontwikkeling.
Indien die behoefte hom voordoen, kan 'n gedeelte van die eiendom, soos geïdentifiseer in die ruimtelike ontwikkelings raamwerk (ROR) as sake ontwikkel word.
Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, het ook vrae beantwoord oor die rioolplaas waarvan die reuk veral gedurende Desember en Januarie problematies was.
Raadgewende ingenieurs is versoek om 'n ondersoek en studie in te stel na opsies vir die moontlike opgradering of verskuiwing van die rioolplaas.
Die belangeforum werk nou saam met ander organisasies soos die inwonersverenigings, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), munisipaliteit en die Stilbaai-sakekamer.
Inwoners word genooi om by dié forum aan te sluit en betrokke te raak.
Inligting is beskikbaar op hul webtuiste www.stilbaai-belangeforum.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'