HESSEQUA NUUS - Kleinboere wat weens Covid-19 geldelik swaarkry en wie van die staat se aanbod om finansiële ondersteuning wil gebruik maak, moet gou spring.
Aansoeke om hulp van die Covid-19-landbouramp-ondersteuningsfonds (CADS-fonds), moet voor 22 April ingedien word.
Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het op 6 April aangekondig dat R1,2 miljard toegewys is aan hoofsaaklik kleinboere wat weens die koronavirus en inperkingsmaatreëls finansieel swaarkry. R400 miljoen van die geld is vir die pro-aktiewe grondverkryginstrategie-program toegeken. Die res van die geld sal hoofsaaklik aan pluimvee-, groente- en veeboere beskikbaar gestel word. Ander kommoditeitsektore, soos vrugte- en saaiboere sal per geval beoordeel word.
Die boere wat hiervoor in aanmerking kom, moet aan sekere vereistes voldoen. Hulle moet onder meer 'n omset van tussen R20 000 en R1 miljoen uit hul boerdery verdien.
Die geld is beskikbaar vir:
- Pluimvee - dagoudkuikens, punt van lê-hoenders, voeding, medisyne en saagsels;
- Groente - saailinge, bemesting, onkruid- en plaagdoders en grondherstel;
- Vrugte - finale spuitprogram vir vrugte wat gereed is om geoes te word;
- Vee - voeding en medisyne;
- Wintergewasse - grondherstel, bemesting, saad en onkruid- en plaagdoders.
"Die meeste van die boere wat aan die vereistes vir hierdie hulp voldoen, beskik nie oor die nodige hulpbronne om die dokumente wat ingevul moet word uit te druk of te skandeer nie," sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), 'n organisasie wat uitreik na familieboere.
Ten einde hulle by te staan om so gou moontlik vir die geldelike hulp aansoek te doen, het SAAI 'n aanlyn-platform geskep waar boere sonder 'n gesukkel aanlyn kan aansoek doen.
Sodra die vorms op Saai se platform voltooi en ingedien is, word dit elektronies by applications@dalrrd.gov.za ingedien. Aansoekers sal ook 'n kopie van hul rekords ontvang.
Besoek die aanlyn-platform by https://bit.ly/CADSFund of stuur jou naam en van per WhatsApp na 066 071 6094.
Saai het ook 'n aanlyn-aansoekvorm vir reispermitte vir boere wat 'n noodsaaklike diens lewer. Doen hier aansoek: https://bit.ly/COVID_Travel_Docs
Vorige artikel: SAAI help kleinboere
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'