Update
RIVERSDAL NUUS - Een van die dorp se grootste rugbyondersteuners, en op sy dag ook self 'n rugbyspeler wat vir Riversdal Blues uitgedraf het, is Maandag 7 November oorlede.
Clifford Abrahams, meer bekend as Pla-Pla, is Vrydag 4 November in Riversdal-hospitaal opgeneem. Hy is Saterdag na George-hospitaal oorgeplaas, waar hy aan hartversaking oorlede is.
Pla-Pla was jare lank by Mosselbaai-gevangenis as vrywilliger betrokke, asook in die Lutherse Kerk se Mannebond. Hy het as jong seun in Uitenhage rugby gespeel en ook provinsiale kleure vir Uitenhage en Somerset in die Oos-Kaap verwerf.
In die vroeë tagtigerjare het Pla-Pla as heelagter by Riversdal Blues naam gemaak en was vreesaanjaend op die verdediging. Hy was ook deel van die groep toe die span die SWD se Groot Uitdaagbeker in die tagtigerjare verower het.
Hy het egter nooit die geleentheid gekry om vir SWD te speel nie. Die unie het hom later jare as 'n legende vereer.
Na sy speeljare het Pla-Pla vir 'n termyn op die bestuur gedien. Hy was ook die man wat sekuriteit by die hek en op die pawiljoen tydens wedstryde gehandhaaf het. Hy was deel van die groepie wat die kreet vir die klub ontwerp het en hy het begin met vuvuzelas om die Blues aan te moedig.
Wanneer hulle agter was, het die kreet en vuvuzelas hulle werk gedoen en was daar geen keer aan die spelers nie.
Hy was steeds lid van die klub en was reeds siek toe die Blues hom as 'n legende tydens hulle jaareindfunksie in Oktober vereer het. 'n Week gelede het Hessequa-sportraad die klub gevra om hom ook as 'n legende van die sportraad te nomineer.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het op sosiale media sy medelye teenoor die familie uitgespreek.
"Jy was almal se Pla-Pla en het soveel lag gesaai in die hele dorp. Jou sêgoed en positiewe energie sal voorwaar gemis word in Riversdal se strate. Jy sal onthou word as een van Riversdal Blues se legendes en grootste ondersteuner."
Die ondervoorsitter, Nicky Juta, het ook die grootste lof vir hom gehad en beskou hom as een van die groot geeste en heel bestes van die klub.
Pla-Pla laat 'n seun, Clinton, sy moeder, twee susters en drie broers agter.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'