RIVERSDAL NUUS - Die kunstenaars van die Hessequa-kunsroete is gekwas om die verf kwistig in 2024 te laat spat.
Die bestuurskomitee het tydens die jaarvergadering terugvoering oor 2023 se projekte gegee en die kunskalender vir 2024 bekend gestel.
Louise Kluyts, die voorsitter, het uitgewys 2023 was ‘n moeilike jaar. “Dit bly ‘n stryd om in ‘n omgewing, waar kuns nie ‘n prioriteit is nie, belangstelling te wek en volhoubaarheid te kweek.”
Die Hessequa-kunsroete is in 2020 bekend gestel.
Met befondsing van R15 000 deur die Hessequa-munisipaliteit en talle aanvullende ander borge was dit wel verlede jaar moontlik om ‘n swierige uitstalling by Kleinbergskoof in Stilbaai moontlik te maak. Daar is egter slegs elf skilderye ter waarde van sowat R25 000 verkoop. Ná uitgawes is die roetebeursie met R7 000 gestu.
Die finansiële jaar word met ‘n positiewe bankbalans van ‘n rapsie oor die R10 000 afgesluit.
Daar word vanjaar drie groot uitstallings beplan. In Augustus vind die tweede Inheems-tienerkuns-uitstalling (met ‘n ruim borgskap deur die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat) in Riversdal plaas, gevolg deur die kinderkunsprojek (waarvan Suid-Kaap Forum vanjaar die mediaborg is) wat in September saamval met die jaarlikse Hessequa-harmoniekunstefees in Heidelberg. Daar is nog geen befondsing vir die kunstenaars se groepuitstalling daar bewillig nie.
Die jaar sal in Desember met die streek-uitstalling in Stilbaai afgesluit word.
Tussendeur sal die kunstenaars die laaste Saterdag van elke maand die opedag-projek voorsit en mense is welkom om dan die onderskeie ateljees op die kunsroetekaart te besoek.
Die tema van vanjaar se kinderkunsprojek is “Vier seisoene in Eden se tuin.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’