HESSEQUA NUUS - Die 14-jarige Aila Garrett van Glentana, wie se linkerduim in 'n robaanval gebreek is, moet Woensdag weer terug teater toe siende dat die wond bly dreineer en infeksie ongelukkig nie uitgeskakel is nie.
Aila se ma, Anndri, het in 'n telefoniese onderhoud met Suid-Kaap Forum gesê die dokter van George sal in die teater besluit of hy moontlik die pennetjie, wat in die eerste operasie in haar linkerduim geplaas is, moet verwyder.
"Daar dreineer etter uit die wond en as die oorsprong die gebreekte been is, mag die dokter dit dalk nodig ag om die pennetjie te verwyder."
Anndri sê haar dogter, 'n leerder van Glenwood House in George, is nog in pyn, maar sy hanteer die situasie baie goed.
"Aila is dapper en hanteer die traumatiese gebeurtenis verbasend goed. Sy is sterk en was al klaar weer terug in die see."
Dié voorval het op Sondag 23 Maart gebeur toe die Garrett-gesin by vriende in Fynbosstrand tussen Stilbaai en Gouritsmond gekuier het.
Aila het saam met haar broer William (15) en twee ander vriende in 'n rotspoel gaan snorkelduik toe die rob haar van agter af aangeval het.
Anndri vertel die kinders was net besig om uit die poel te klim toe die rob van die see se kant af in die rotspoel kom.
"Aila was onbewus van die rob aangesien haar rug met die uitklimslag na die rob se kant toe gedraai was.
"Die robaanval was binne sekondes verby en het so vinnig gebeur dat die ander vriende nie kans gehad het om haar te hulp te snel nie.
Maar hulle het koelkop gebly en haar fantasties ondersteun.
Twee vriende het by haar gebly terwyl William ongeveer een kilometer ver na hul vriende se huis gehardloop het om hulp te ontbied.
Die kinders het werklik mooi kopgehou hoewel hulle ook erg deur die aanval getraumatiseer was."
Anndri, 'n gekwalifiseerde veearts, hoewel sy nie meer praktiseer nie, sê hoewel robaanvalle nie gereeld voorkom nie, moet dié voorval dien as 'n belangrike bewusmaking oor die risiko van sulke aanvalle en die gevaar wat dit inhou.
"Hondsdolheid word nou endemies geag onder Kaapse robbe en is dus hier om te bly.
Niemand weet presies wat die akkurate voorkoms van hondsdolheid onder die plaaslike robbevolkings is nie, maar daar was in die onlangse verlede verskeie bevestigde gevalle."
Anndri sê mense moet op strande - en ook in die see - uiters versigtig wees.
"Vermy kontak met robbe en moenie toelaat dat troeteldiere, soos honde, kontak maak met robbe op strande nie."
Sy maan dat enige byt deur 'n rob as 'n mediese noodgeval gehanteer moet word en sê dis uiters noodsaaklik dat die hondsdol-protokol so gou as moontlik ná blootstelling geïnisieer moet word.
"Hondsdolheid is dodelik as dit opgedoen word en die enigste kans op oorlewing is voorkoming.
Onthou dat stap een is onmiddellike en deeglike spoeling van wonde, al is dit met soutwater."
As voorsorgmaatreël het Aila reeds die eerste inenting teen hondsdolheid gekry en is immunoglobuliene teen hondsdolheid ook in die teater in haar wonde toegedien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’