RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal Voortrekkers het van 18 tot 20 Julie hul jaarlikse kommandokamp by Grootvadersbosch gehou - 'n naweek vol avontuur, leer en kameraadskap vir deelnemers van alle ouderdomme.
Van die jongste Voortrekker, net vyf jaar oud, tot die oudste deelnemer van 79 jaar, het almal saam kampvure, staptogte en leersame aktiwiteite geniet.
Die Otters en Leeus, laerskool-groepe, het baie gespeel, maar ook insiggewend geleer oor inheemse en uitheemse plante, die wisselwerking tussen plante en diere, en interessante feite oor Suid-Afrika se nasionale boom en blom.
CapeNature het ook 'n opvoedkundige aanbieding gelewer.
Vir die Uile-span (gr. 5) was Working on Fire 'n hoogtepunt, waar hulle 'n demonstrasie van veldbrandbestryding bygewoon het - met 'n kompeterende sy om te sien wie die vinnigste brandtoerusting kon aantrek.
Die Dolfyne (gr. 7) het hul Voorslag-toetsing voorberei met onderwerpe soos knope, sterrekunde en geskiedenis, terwyl die Verkenners (hoërskoolleerders) hul finansiële kennis, asook taalvaardighede in Afrikaans, verbreed het.
Tussen die leer en pret was daar ook tyd vir staptogte in die asemrowende natuur - selfs nagstappies - wat die ervaring spesiaal gemaak het.
Hoewel die weer koud was, het almal met warm harte en kosbare herinneringe teruggekeer.
Enigiemand wat by Riversdal Voortrekkers betrokke wil raak, kan vir Tielman Roos by 083 261 6630 of Leenkie Rousseau by 076 177 8087 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’