RIVERSDAL NUUS - Die Riversdalse-tuinbougroep (GFT) het onlangs 'n uitstappie na die Aardvark Bioreservaat, 'n gebied tussen die Langeberge en die Swartberge, onderneem.
Linda Fletcher, 'n passievolle volhoubaarheidsbestuurder by die Gouritz Cluster Biosphere Reserve (GCBR), het hierdie sielsverrykende uitstappie moontlik gemaak. Saam met haar en Louis Jordaan, die voorligtingsbeampte van die Klein Karoo, is almal opnúút bewus gemaak van die grootsheid van die skeppingsruimte in die geweste.
GCBR is in Junie 2015, met behulp van UNESCO (United Nations Education, Scientific and Cultural Organisation), die groen lig gegee as Suid-Afrika se sewende en grootste Biosfeerreservaat (3 187 893 hektaar).
Die gebied strek hoofsaaklik van die suidelike deel van Suid-Afrika en oorvleuel met dele van die Wes- en Suid-Kaap. Die uniekheid daarvan is dat drie biome, wat globale brandpunte van biodiversiteit is, hier oorvleuel, naamlik: Fynbos, Vetplantkaroo en Maputoland-Pondoland-Albany-ruigtewoud.
Elke ekosisteem het sy eie biodiversiteit en eie klimaatstoestand wat tot sy eie uniekheid bydra. So spog die GCBR-streek met ‘n hoë aantal endemiese plantspesies wat nêrens anders te vind is nie. Dit is onvervangbaar en dui op die belangrikheid hoekom UNESCO dit as ‘n internasionale Biosfeerreservaat verklaar het.
Tydens die groep se uitstappie, oftewel landskapsbewondering, het Louis, die toergids, heelwat staaltjies oor verskeie Karooplante, asook hul voor- en nadele, uitgelig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’