RIVERSDAL NUUS - "Ons kan bars van trots, want jy klop nie sommer die Unistars McGregor se orkes tuis nie."
Só vertel Arnold Elbrink, afrigter van Riversdal se Royal Crusaders Kersfeeskoor-blaasorkes, nadat hulle in die SWD-streekuitdunne met vier ander orkeste afgereken het om deur te dring na die Wes-Kaapse eindronde van die Suid-Afrikaanse Kerskoorraad se blaasorkeskompetisie wat op 26 Maart in Robertson aangebied word. Sestien orkeste sal daar in aksie wees.
Arnold sê hy is ongelooflik trots op die lede en terselfdertyd baie opgewonde op wat voorlé in die eindronde.
"Ons het eers in Suurbraak en daarna in McGregor met die SWD se topvier blaasorkeste afgereken om ons plek in die Wes-Kaapse eindronde te bespreek. Ons kan dit steeds nie glo dat ons McGregor geklop het nie."
Royal Crusaders het afgereken met Young Christians van Suurbrak, New Born Stars van Slangrivier, Young Royal Crusaders van Barrydale en natuurlik McGregor se Unistars en in die proses die afdelings vir bes geklede orkes, beste drilvertoning en, die belangrikste, beste uitvoering van 'n sololied gewen.
Die Royal Crusaders, wat uit 60 lede bestaan, oefen nou dat dit klap vir die eindronde waar die Wes-Kaapse grootkampioen bepaal gaan word. Arnold sê die ondersteuning van hul ondervoorsitter, Freek de Villiers, en die gemeenskap was tot dusver fantasties.
"Ek weet dat ons steeds op hulle kan staatmaak vir ons deelname in Robertson. Ons gaan hard voorberei om ons ondersteuners trots te maak en die wentrofeë na Riversdal terug te bring."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’