TUINROETE DISTRIKSNUUS - Die prag en skoonheid van die Suid-Kaap, waaronder Mosselbaai en omliggende gebiede, word danksy 'n nuwe TV-reeks, Op soek na Eden, aan 'n nasionale gehoor op televisie bekendgestel.
Dit vorm deel van 'n nuwe reeks waarvan die eerste episode Woensdag, 29 September op die VIA-kanaal 147 uitgesaai word.
Die reeks bestaan uit 13 episodes van 30 minute elk en word deur Marliza van den Berg aangebied. Volgens die vervaardigers gaan dit oor elkeen se reis in die soeke na die plek wat hom/haar gelukkig maak. Opnames het vroeër vanjaar plaasgevind.
Die reeks is deur Garden Route Media, 'n plaaslike maatskappy, oor 'n tydperk van vier maande vervaardig. Daar is wyd gery - van Calitzdorp tot by Plettenbergbaai en Albertinia. Die program kon vervaardig word danksy 'n borgskap van Cape Estates, wat in die plaaslike eiendomsbedryf woeker.
Volgens Anton Treurnich van Garden Route Media, bygestaan deur Cara Botha, het elke episode 'n tema. Dit bied 'n dieper kyk na die Suid-Kaap wat al hoe gewilder word.
Vir baie mense is dit 'n vakansie- en uitspanplek, maar deesdae kom vestig al hoe meer mense hulle in die gebied. Dit is moontlik om hier te werk danksy moderne tegnologie. Dit beeld die gebied uit as 'n plek waar mense hul wortels kan skiet.
Met die reeks gaan gepoog word om te wys hier is baie om te sien. Van die temas sluit in die oorsprong van verskeie dorpe, plekke waar mense hul dors kan les (byvoorbeeld wynplase) en bergpasse.
Filmbestemming
Botha het gesê die vervaardiging van die reeks deur 'n plaaslike maatskappy is 'n bevestiging van die filmbedryf in die gebied. Dit is ook deel van planne om die Tuinroete as filmbestemming te vestig waar produksies gemaak en aanmekaar gesit word.
Die plaaslike ekonomie het beslis voordeel uit die vervaardiging van dié reeks getrek. Daar is onder meer gebruik maak van plaaslike mense om te help met die logistieke aspekte.
Die program is ook gekies as een van net vyf VIA-programme wat op DSTV Catch-up beskikbaar gaan wees, wat spreek van die uitstekende gehalte van die produksie.
Loer gerus hier na 'n kort voorsmakie.
Marliza van den Berg, neem kykers op 'n ontdekkingsreis deur hierdie pragtige deel van Suid-Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'