RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven se hoofseun, Radandt Malherbe, sê sy resep vir akademiese sukses is baie eenvoudig: fokus. "Deur bloot net aandag te gee in die klas, hoef ek glad nie so baie te swot nie."
Radandt sê hy het eers in graad 10 regtig goed begin presteer, maar vandag is dit vir hom baie belangrik om 'n goeie akademiese basis vir sy toekomsdrome te bou en dit is ook wat hom motiveer.
Sy lys akademiese en ander toekennings lees soos iets uit The Guinness World Records. Tydens die skool se 2018 erkenningsaand het hy 'n eremedalje as hoofseun van die skool ontvang, maar dit was maar net die begin van sy lang rits prestasies. Met 'n gemiddelde van 90,1% - volle erekleure - is Radandt die toppresteerder in ses vakke uit al die matrieks: Engels eerste addisionele taal, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde, wiskunde en addisionele wiskunde.
Hy ontvang die kultuurpenning van die Voortrekkers vir prestasie in leierskap en kultuur, die Tuinroete Wynboutique-beker vir beste prestasie in wiskunde en fisiese wetenskap, die Henya Stander-trofee vir beste prestasie in Engels addisionele taal, die Kruger-beker vir beste prestasie in fisiese wetenskappe, die Elmarie Vosloo-trofee vir die beste prestasie in lewenswetenskappe, die ENB-beker vir die beste prestasie in rekeningkunde, die Handelshuis-beker vir die beste prestasie in wiskunde en die Ferreira-beker vir die beste prestasie in gr. 12. Dan kry hy ook nog diplomas vir Afrikaans huistaal en lewensoriëntering.
Die appel val nie ver van die appelboord nie, want om te presteer loop in dié Malherbe se bloed. Sy oupa, Danïel Jacobus Malherbe (Basie) het in 1948 by die skool matrikuleer. Sy pa, Francois Malherbe het in 1986 matrikuleer en was ook hoofseun.
Hy is al vir die afgelope sewe jaar op die skool se beheerliggaam. Sy broer Jean-Jacques Malherbe het in 2014 matrikuleer en was onderhoofseun.
Radandt gaan volgende jaar Bsc Fisika op die Universiteit Stellenbosch studeer en beplan om uiteindelik sy doktersgraad in fisika te behaal. "Dis hoekom ek nou sorg dat ek presteer. 'n Gesonde basis sal help dat ek later nie so hard hoef te werk nie. Ek sal op Stellenbosch aansoek doen vir meriete beurse."
Sy pa Basie is 'n landbouer buite Riversdal, sy ma Anchen 'n boekhouer en sy broer Jean-Jaques 'n 3de-jaar B.rek student aan Unisa. Radandt is boonop 'n talentvolle pianis wat al vir 11 jaar die klawers tokkel. Klassieke musiek is sy gunsteling genre - veral Bach en ander Barok-komponiste se werk.
Hoofseun Radandt Malherbe en sy trotse ouers Francois en Anchen by sy indrukwekkende versameling trofees. Francois Malherbe was ook hoofseun in 1986.
Hy beplan om ook sy sosiale lewe as Matie te geniet, maar op sy pad onderweg na die PhD in fisika, kom sy studies eerste. En voor die groot leer op universiteit begin, gaan hy darem eers saam met 'n paar vriende deur die Tuinroete en Oos-Kaap toer.
Geluk Radandt! Jou hoërskool alma mater en Suid-Kaap Forum sal jou loopbaan met groot belangstelling volg.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'