RIVERSDAL NUUS - Verskeie ondergrondse pypbreuke is die afgelope ruk gereeld in die woonbuurte en die sakekern aangemeld.
“Die ongure weer wat gewoed het, het ‘n negatiewe impak op die waterinfrastruktuur gehad,” sê Didi Budricks, munisipale woordvoerder van Hessequa.
Sy sê natuurlike verweer van verouderde waterwype dra daartoe by dat pype kraak of bars.
Water is skaars en duur. Waarnemers waarsku lank reeds die gebrek aan water en die geveg daarvoor ter wille van oorlewing tot die volgende wêreldoorlog kan lei.
“Waterverliese in Hessequa is binne die nasionale riglyne. Alhoewel die riglyn 30 % is, het ons vir die afgelope jaar slegs 'n verlies van 14% gehad, danksy opgradering van verouderde infrastruktuur, asook die installering van drukbeheerkleppe om verhoogde druk in netwerke te vermy,” sê Budricks.
Die munisipaliteit fokus op die monitering van die verswakte infrastruktuur, vinnige herstel en volgehoue instandhouding.
“Waterdruk word gedurende die aand gereguleer wanneer waterverbruike minimaal is om die druk te verlaag. Vervanging van verouderde asbestos-waterlyne met PVC-pype vind ook deurlopend plaas.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’