ALBERTINIA NUUS - Op die rype ouderdom van 81 het prof. John Spencer van Albertinia 'n prestasie behaal waaroor jonger atlete net kan droom - hy het sy 23ste Twee Oseane-marathon voltooi (10 ultras en 13 halfmarathons).
Hierdie wedloop van 56 km oor sommige van Kaapstad se mees uitdagende terreine is nie vir sissies nie, maar vir Spencer is dit deel van 'n lewenslange verbintenis tot fiksheid, deursettingsvermoë en persoonlike groei.
"Wanneer jou lyf goed voel, voel jou gees goed," sê Spencer, wat al dekades lank hardloop, van sy jong dae as skoolatleet tot vandag se veteraanwedlope.
Spencer se atletiekloopbaan het begin op hoërskool waar hy in die eerste rugby- en krieketspan gespeel het, maar ook presteer het in pad- en veldwedlope.
Sy pa, self 'n talentvolle atleet, het hom aangemoedig om altyd die ekstra myl te loop - letterlik én figuurlik.
In die vroeë 1960's het hy by die Vloot-gimnasium in Saldanhabaai aangesluit, waar hy die Vlootspan in middelafstande verteenwoordig het.
Later was hy kampioen in die 880-jaart en 1-myl items aan die ou Kaapse Tegniese Kollege.
"Ek het net aangehou hardloop," sê hy.
"Dit voel goed as jou liggaam fiks is en jou kop helder."
Sy eerste Twee Oseane was in 1985, op ouderdom 41, as voorbereiding vir die Comrades-marathon.
Sy tweede jaar, 1986, was sy beste tyd én het hy Wally Hayward met tien sekondes geklop - 'n herinnering wat hy vandag nog koester.
Deur die jare het Spencer verskeie beserings oorwin, insluitend 'n ernstige dyspierbesering en rugprobleme.
Hy het later na die halfmarathon-afstand oorgeskakel, maar steeds volgehou.
Vandag dra hy blou nommers in beide die Twee Oseane se ultra- én halfmarathon - 'n uitsonderlike prestasie.
Benewens hardloop, het hy ook as rugbyskeidsregter opgetree en selfs by die ABSA Cape Epic gewerk as deel van sy akademiese navorsing in sporttoerisme.
En 'n moontlike 24ste Twee Oseane? "Ek het gesê nee," sê hy met 'n glimlag. "Maar as die Blue Number-uitnodiging in Oktober kom… dalk."
Vir Spencer is ouderdom net 'n nommer - en die pad wat voorlê is vir hom nog lank nie klaar nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’