Gallery
STILBAAI NUUS - Pikkewouter-kleuterskool se jaarlikse potjiekoskompetisie is Saterdag 21 Oktober in gietende reën by die Stilbaai-gemeenskapsaal gehou, maar dit het geensins die geesdrif gedemp nie en daar het 22 potte staan en prut.
Daar was groot potte en klein potte en selfs 'n brandewynpot, met die heerlikste geure wat in die lug, of in die reën, gehang het.
Gazebos was teenmekaar opgeslaan en veelkleurige sambrele het bietjie beskerming teen die gure weer gebied.
Binne die saal was stalletjies met kos en speletjies vir die kinders en soos gewoonlik was die pannekoekstalletjie baie gewild.
Die skoolhoof van Pikkewouter, Suanie Oberholzer, kan nie uitgepraat raak oor die ongelooflike ondersteuning van die ouers en gemeenskap nie. Een en almal wat ingeskryf het vir die potjiekoskompetisie het, ten spyte van die gietende reën, opgedaag en van hulle was teen die middag deurnat.
FOTOGALERY: Jaarlikse potjiekoskompetisie by Pikkewouter-kleuterskool
Pikkewouter se 2023 potjiekoskampioen, Niel van Tonder met sy kinders en vrou, Debby, by Jason Barnes en die organiseerders Martjie Fourie, Karlien Botha en Annerise Wolmarans.
Die beste pot is hierdie jaar gemaak deur Niel van Tonder en sy gesin en hulle het dus met die wisseltrofee weggestap. Dit was soete wraak nadat Myra Prinsloo verlede jaar die trofee by hom afgevat het.
Die Stilbaai-gemeenskap het weereens gewys dat niks hulle sal weerhou van pret vir 'n goeie doel nie.
Suanie bedank ook die ouers, gemeenskap, besighede van Stilbaai en die organiseerders van die dag. Dit was 'n reusesukses, nie net as 'n fondsinsameling nie, maar ook om bymekaar te kom en vir 'n dag net te vergeet van al die probleme daar buite.
Sylmanthia Kleinhans, Eliza Vrey, Cecilia Nel, Ina Janse van Rensburg en Linnette Potgieter is gereed met die eerste stapel pannekoeke voor hulle.
5. Die Originals maak gebruik van 'n breek in die reën en duidelik is hulle begeesterd vir die taak op hande.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’