HESSEQUA NUUS - Terugvoer van die Polisie:
Albertinia
GPF-imbizo
'n Imbizo om misdaad in die dorp te bespreek vind Maandag 16 Oktober om 18:30 vir 19:00 in die burgersentrum in Vriesstraat, Theronsville plaas. Alle lede van die gemeenskap is welkom om hul insette te lewer.
Trauma-opleiding
Lede van die gemeenskap het Saterdag 7 Oktober opleiding ontvang om traumaslagoffers by te staan. Hulle kan in Gourits enBitoville besoek word. Enige soort trauma word deur die lede hanteer. Vir lede wat hul dienste beskikbaar wil stel, kontak sers. Cisca Badenhorst by 028 735 8040.
Riversdal
Man vir dronkbestuur gearresteer
Die plaaslike polisie het Saterdag 30 September om 03:20 tydens patrollie 'n BMW-voertuig probeer aftrek wat sonder ligte gery het.
Die bestuurder het weggejaag, maar teen 'n heining gebots.
Die 20-jarige jongman is vir bestuur onder die invloed van sterk drank gearresteer en 'n saak van roekeloos en nalatige bestuur is geopen. Hy is ook 'n boete opgelê vir bestuur sonder geldige rybewys.
Die omvang van die skade aan die heining is nog nie bekend nie. "Hy sal egter vir dié skade ook verantwoordelik gehou word," aldus sers. Edwina Eksteen, mediawoordvoerder van Riversdal-polisie. (Keith Eksteen, korrespondent)
Diefstal van deksels is krimineel
Dit gebeur al meer gereeld dat metaaldeksels van watermeters gesteel en vir skrootmetaal verkoop word. Die gemeenskap word gemaan dat dit 'n kriminele oortreding is om munisipale eiendom te steel en te verkoop. Die vervanging van die deksels met plastiek lei tot uitgawes, wat indirek tot die verhoging van munisipale belasting en dienstegelde lei. (Keith Eksteen, korrespondent)
Van links is a.o. Erol Els (Vispol-bevelvoerder), Mary Julies (voorsitter van die slagofferbystandlede), Sophia Ruiters, Jacoline Rhodes, Loretta Flores en Gerald Brown (voorsitter: GPF Sub-Forum Gourits).
Stilbaai
GPF hou vergadering
Inwoners word uitgenooi na die Gemeenskapspolisië-ringsforum (GPF) se vergadering op Dinsdag 17 Oktober waar verskeie sake van belang bespreek gaan word. Dit vind om 19:00 in die gemeenskapsaal plaas.
"Stilbaai is een van die vinnigste groeiende dorpe in die Wes-Kaap, wat spanning op die dorp in die algemeen plaas, maar sekerlik ook druk op die plaaslike polisie," sê past. Jan Kleynhans, voorsitter.
Van die sake onder bespreking is onder meer hoekom die dorp se misdaad laag is, hoekom die GPF as een van die beste drie in die Wes-Kaap aangewys is en die misdaadverslag vir die jaar.
Daar sal ook tyd wees om vrae aan die voorsitter of stasiebevelvoerder, kapt. Johan van Tonder te stel.
Inwoners wat metaaldeksels by watermeters steel vir skroot sal vervolg word. Foto: Keith Eksteen, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'