HESSEQUA NUUS - Die polisie het Woensdag 29 Junie omstreeks om 09:00 inligting ontvang dat daar in AC Kippiesstraat in Riverville met dwelms handel gedryf word.
Dié inligting is deur ao. Hans Busch, sers. ZJ Mgwexa, en konstabels Garnett Damans en S Hendricks opgevolg waarna hulle op 'n hoeveelheid Mandrax-tablette, tik en kontant beslag gelê het.
'n Vrou, wat die eienaar van die adres is, is gearresteer en gedagvaar om in die plaaslike hof te verskyn.
Riversdal gaan gebuk onder dwelmmisbruik, veral onder jongmense. In baie gevalle lei dit tot finansiële gesinsgeweld, omdat die broodwinner eers sy dwelmskuld moet betaal alvorens hy of sy weer dwelms op skuld kan koop.
Dis moeilik om dwelmmisbruik doeltreffend te bestry siende dat die Riversdal-polisiestasie onderbeman is. Dit gebeur gereeld dat net twee of drie polisielede aan diens is en hulle moet die hele Riversdal, plase in die omgewing ingesluit, diens. Die werklading lei ook tot stres onder lede.
Die plaaslike polisie is tans besig om reserviste en buurtwagte op te lei om die stasie se mannekrag te versterk.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'