HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie se slagofferondersteuningsnetwerk, in samewerking met Mosiac, 'n veiligheidshawe vir vroue en kinders, het Donderdag 15 Augustus hul jaarlikse Vrouemaand-bewusmakingsveldtog gevier.
Die tema vir die verrigtinge was “Omhels, Bemagtig en Ophef."
Die oggend se verrigtinge is met skriflesing en gebed deur Ronel Lewis, 'n traumaberader, geopen met lt.kol. Sipho Dyani, stasiebevelvoerder, en ao.
Blackie Swart, Vispolhoof, wat die nagenoeg 20 vroue oor die doel van die dag ingelig het.
Die rolspelers, polisie, traumakamervrywilligers en lede van Mosiac het hul onderskeie rolle en verpligtinge binne die gemeenskap aan die aanwesigfes verduidelik.
Een van die gaste het ook ‘n kers vir hoop, vrede en liefde aangesteek.
Die twee gassprekers, Anna Jacobs, eggenoot van eerw. Morgan Jacobs, en Charmaine Meyers, voormalige opvoeder, het die aanwesiges passievol aangemoedig om hul regmatige plek in die samelewing in te neem om die broodnodige sosiale verandering wat benodig word te fasiliteer asook om slagoffers van geweld met die nodige opsies en hulpbronne te voorsien en bemagtig.
Soos die tradisie maar is, is die aanwesiges ter afsluiting met heerlike versnaperinge bederf.
Die groep vroue en ao. Blackie Swart, heel agter, het die oggend om Vrouemaand te vier terdeë geniet. Voor sit: Magdalena Theodore en Gameda Booysen, beide traumakamerberaders, Anna Jacobs, Charmaine Meyers, albei gassprekers en sers. Imorgene Hendricks, plaaslike media- en sosialebeampte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’