Update
STILBAAI NUUS - Die plaaslike polisie, in samewerking met die buurtwagte van Stilbaai-Oos, Stilbaai-hawe, Stilbaai-hoogte, Platbos en die plaaswag het Woensdag 27 Julie 'n gesamentlike operasie in en om Stilbaai van stapel gestuur.
Die polisiebeamptes is deur Hessequa-verkeer ondersteun, wat 'n gekontroleerde voertuigstoppunt aan die oostekant van die brug verskaf het.
Daar was drie polisielede, agt van verkeer en 40 buurt- en plaaswaglede betrokke. Die polisie het 14 patrollies uitgevoer en die buurtwag 53.
Ses mense is vir dronk op straat aangekeer, sewe verkeersboetes is uitgeskryf, een is in besit van dwelms in hegtenis geneem, terwyl vier verdagte persone deur die patrolleerders opgemerk en opgevolg is.
Volgens ao. Morné D'Emiljo, bevelvoerder: sigbare polisiëring in Stilbaai vorm hierdie operasie deel van 'n geïntegreerde aanslag in die bekamping van misdaad.
Lede van die plaaslike polisie, verkeer en verskeie buurtwagte het in Stilbaai 'n gesamentlike operasie in en om Stilbaai geloods om misdaad te bekamp.
"Die bydrae wat gemeenskap-veiligheidstrukture, soos buurt- en plaaswagte tot die beveiliging van Stilbaai lewer is van onskatbare waarde en die polisie wil alle patrollielede opreg bedank vir die bydrae wat hulle lewer tot die skep van 'n veiliger omgewing," het D'Emiljo gesê.
Alle buurtwagpatrollies lewer hierdie diens vrywillig aan die gemeenskap en word deur die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum ondersteun met betrekking tot registrasie en opleiding.
Enige belangstellendes wat by die buurtwag wil aansluit, kan D'Emiljo by 082 446 5701 of 028 754 6106 tydens kantoorure kontak.
Plaaslike polisiebeamptes net voor hulle op 'n misdaadvoorkomingspatrollie in Stilbaai vertrek het. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'