HESSEQUA NUUS - Dis nie elke dag wat atlete van Hessequa die geleentheid kry om skouers te skuur met van Suid-Afrika se voorste sportsterre nie.
Maar dit is presies wat op 26 en 27 Maart met pluimbalspelers van dié omgewing gebeur het toe Johanita Scholtz, Suid-Afrika se beste vrouepluimbalspeler die streek besoek het nie.
Sy is oorspronklik van die klein dorpie Oranjemund in Namibië waar sy begin pluimbal speel het.
Sy het op ’n jong ouderdom in Suid-Afrika aan ’n interprovinsiale kompetisie kom deelneem waar sy deur die keurders raakgesien en gekies is om by die nasionale oefenspan in Bloemfontein aan te sluit.
Hoewel sy ver van haar huis was, het sy haar liefde vir die sport gekombineer met die ondersteuning van die afrigters by die Hoë Prestasie Sentrum om jaarliks meer te leer en te groei totdat sy in 2024 haar piek bereik het en as trotse atleet Suid Afrika in Parys by die Olimpiese Spele kon verteenwoordig.
Maar sy het nog ander pluimbalplanne. Reeds in Februarie 2025 het sy saam met haar dubbelsmaat, Amy Ackerman, die eerste plek by die All Africa Women’s Doubles Badminton Championships in Kameroen verower het.
Met harde werk en toewyding sien ons haar weer in 2028 by die Olimpiese Spele in Los Angeles.
Saam met Johan Kleingeld, bestuurder van die Hoë Prestasie Sentrum in Bloemfontein en lid van Pluimbal Suid-Afrika se bestuurspan, het Johanita Maart gebruik om dorpe in Suid-Afrika te besoek.
Op die laaste deel van hulle reis, het hulle klubs en fasiliteite in die Tuinroete besoek.
Hul eerste besoek in Hessequa was op Woensdagmiddag, 26 Maart in Stilbaai, waar die ongeveer 24 juniors, wat reeds drie keer per week oefen, geïnspireer is deur Johanita se vinnige bewegings en presisie van houeplasings.
Saam met Johan het hulle waardevolle wenke ontvang en is hulle ook gewys wat dit verg om die beste van die beste te wees.
Die oggend van die 27ste het die span beide Gerrit du Plessis en Kairos Senior Sekondêr besoek.
In Heidelberg het hulle leerders van Kairos en die Charis Christian School gewys hoe vinnig ’n pluim regtig kan trek. Selfs skoolhoof Brian Februarie het ’n kans gekry om Johanita se aanslag met ’n veerpluim te probeer keer.
Dit was egter duidelik dat hierdie sport nie verniet in die Guinness World Records opgeteken staan as die vinnigste sport in die wêreld nie.
Aan die einde van die besoek is die harte van die Hessequa-atlete gevul met inspirasie en hoop.
Die saadjie vir die boodskap dat al kom jy van ’n klein dorpie, beteken dit nie dat jy nie iewers sal kan kom nie, is geplant.
Pluimbal Suid-Afrika se aktiewe soek na talent is reeds volstoom aan die gang.
Die groei van die sport in Suid-Afrika en in Hessequa, word aktief bestuur sodat Suid-Afrika op die hoogste vlak aan dié sport kan deelneem.
Indien jy belangstel om deel te neem, kontak Ursula van Huyssteen, ontwikkelingsbeampte van die Eden Pluimbal Federasie, by 084 503 8481.