RIVERSDAL NUUS - Die plaasskool Goedgegun Primêr vier die naweek van 25 Mei hul 50ste bestaansjaar met 'n fees by die skool.
Die skool is onder die vaandel van die destydse NG Sendingkerk in 1968 gestig. Die predikant was ds. AJ Botes en die eerste prinsipaal was me. Rosalind Beukes, nou Brink.
Mnr. Simon Williams het die skool gebou en was mnr. Mattheus Koen die plaaseienaar. Koen besluit om die skool 'Goedgegun' te noem, met die hoop en vertroue dat dit goed met die skool se leerders en ouers sal gaan.
'n Groot probleem duik op met die opening van die skool op 24 Januarie 1968. Hul voorraad is nog nie deur die onderwysdepartment afgelewer nie.
Mnr. Frank Groenewald, prinsipaal van die Lutherse Berlynse Sendingskool (tans Voorwaarts Primêr) leen solank van sy skool se voorraad, banke asook 'n tafel en kas vir die onderwyser.
Die skool open met 'n gesonde leerdertal van 49 kinders. Die eerste ingeskrewe leerder was Jakob Adams.
In 1969 word mnr. Peter Elmor Carelse die prinsipaal tot in 1975. Hy was prinsipaal by Soetmelksrivier NGS-kerkskool vanaf 1964-1968.
Karelse verhuis later na Kaapstad, waar hy prinsipaal word van 'n skool in Mitchells Plain.As gevolg van die destydse politieke bestel emigreer sy gesin later na Australië.
Ander prinsipale was me. Hettie Marcus, mnr. Edward Beukes, mnr. Basil Daries en me. Hetwig Scholtz, (18 jaar). Die huidige prinsipaal is me. Felicity Adams.
Feesprogram
- Saterdag 26 Mei - 'n Boeresportdag by die skool met verkope.
- Sondag 27 Mei - Dankseggingsdiens by die skool met gratis verversings.
Vir meer inligting skakel die skool by 028 713 1695/9.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'