STILBAAI NUUS - Stilbaai se vegtertjie, Pippie Kruger, het Vrydag 9 Junie haar veertiende verjaarsdag met 'n pragtige koek gevier.
Haar beste vriendin, Jade Grint, het haar verras met die koek, gebak deur Allegaartjie, en Pippie se opgewonde reaksie sal haar altyd bybly.
Sy was die afgelope ses jaar op 'n streng Keto-dieet en alhoewel hulle haar verjaarsdae altyd vier met iets lekkers, het sy in 2014 laas 'n verjaarsdagkoek gehad met al die versiersuiker en soetgoed.
Noudat sy puberteit bereik wil die dokters hê dat sy die normale dieet van 'n tienerdogter volg en hulle sal dan later weer die dieet strenger maak.
Volgens haar ma, Anicé, is Pippie gelukkig baie lief vir biltong en mis sy nie die soetgoed so erg nie.
Pippie en Jade het sowat twee jaar gelede in mekaar se lewens gekom toe die tannie by wie Jade gebly het gesterf het en Jade net uit die huis wou kom. Sy gaan kuier toe by die Krugers en sy en Pippie het onmiddellik gekliek.
Jade Grint verras Pippie met die verjaardagkoek
Pippie het in 2011 op 2-jarige ouderdom in 'n fratsongeluk derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyf opgedoen nadat 'n bottel vuuraansteekjel gedurende 'n braai in haar pa se hande ontplof het.
Sedertdien het Pippie al 65 operasies ondergaan en Vrydag 23 Junie, gaan sy vir nommer 66 by die Kingsbury-hospitaal in Claremont, Kaapstad.
Aangesien sy groei en haar liggaam verander, moet sy van tyd tot tyd gaan vir onder andere zplasty-behandelings om die vel te rek.
Volgens Anicé sal hulle daarmee aangaan totdat Pippie dit nie meer wil doen nie.
Pippie is nou by 'n nuwe neuroloog en die mediese wetenskap bring ook voortdurend nuwe goed uit en haar ouers wil net die beste vir hierdie dapper dogter hê. Hulle glo en vertrou dat sy weer eendag sal kan loop en dat haar toestand sal verbeter.
Anicé sê dat jy nooit moet hoop verloor nie en dat jy op die Here moet vertrou.
Pippie is die lewende bewys dat geloof, hoop en deursettingsvermoë jou 'n kans in die lewe gee en sy is 'n voorbeeld vir een en almal.
Pippie kry 'n kolwyntjie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’