HEIDELBERG NUUS - Willem le Grange van Mosselbaai is sy titel as die onbetwiste kampioenpampoenkweker, wat hy vir drie jaar in 'n ry verower het, by vanjaar se Groot Pampoenfees kwyt.
Pieter Conradie, wat in die Nuy vallei boer, het hom onttroon toe sy pampoen Saterdagmiddag 6 April as die grootste ingeweeg is.
Dié bielie het die skaal op 967,5 kg. laat kreun wat 'n nuwe Suidelike Halfrond-rekord is. Die wêreldrekord staan nog veilig op 1191,5 kg.
Vir sy wenpoging het Pieter R20 000 in sy sak gesteek.
Hy het aan Suid-Kaap Forum se korrespondent Diane Chapman vertel sy grootste uitdaging was die weer met veral twee weke van uitermate warm dae wat die groei van die pampioene belemmer het. "En die vervoer van die twee grotes na die Heidelberg-skouterrein was ook 'n hengse kopseer,"
Maar nou kan hy spog met sy nuut verworwe titel: Heidelberg - en Suid-Afrika - se Pampoenkoning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’