RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se Paul Maré, 'n gr. 8-leerder, het sy eerste veldren op onvergeetlike wyse aangepak toe hy op sy 14de verjaarsdag as navigator vir sy pa, Paul Maré, aan die East Cape Off Road Racing Club se derde rondte vir veldrenmotorvoertuie deelgeneem het.
Die pa-en-seun-span het op 4 Julie in hul Orco Sandmaster meegeding en 'n uitstekende vertoning gelewer.
Hulle het die dag derde algeheel geëindig, Klas B gewen en boonop die vinnigste rondtetyd van die dag aangeteken.
Hoër Landbouskool Oakdale het Paul met sy indrukwekkende debuut gelukgewens en hom alle sterkte toegewens vir sy toekomstige deelname aan die sport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’