RIVERSDAL NUUS - Pasop vir aanlynaankope! Só waarsku die plaaslike polisie inwoners wat gereeld hul inkopies aanlyn doen en gereeld met slenters gevang word.
Sers. Christiaan Jansen, woordvoerder van die Riversdal-polisie, sê verskeie bedrogsake is die afgelope tyd by die polisie ingedien deur inwoners wat met aanlynaankope bedrieg is. "Dié tendens is niks nuuts nie en kom al maande, indien nie jare nie, voor."
Hy het inwoners gemaan om uiters versigtig te werk te gaan as hulle op dié manier aankope wil doen. "Dis anders as die ou tradisionele manier van koop waar jy by 'n winkel instap en die item wat jy wil koop kan sien of aanpas voordat jy daarvoor betaal.
Aanlynaankope het vele slaggate en mense word maklik om die bos gelei."
Jansen beveel aan dat mense die verkoper of diensverskaffer se webtuiste baie deeglik bestudeer. "Is die adres al lank in bedryf of is dit relatief nuut? Vra vriende of kennisse uit of hulle al voorheen met sukses by 'n spesifieke diensverskaffer aanlynaankope gedoen het.
"En as die prys te goed is om waar te wees, veral as dit met soortgelyke items elders vergelyk word, moet daar 'n rooi vlag vir jou opgaan."
Jansen waarsku: "Wees uiters versigtig voor jy iets aanlyn koop. Voorsorg voorkom nasorg."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’