STILBAAI NUUS - ’n Splinternuwe parkrunroete gaan eersdaags naby die Gouritzrivierbrug by Bon Game Reserve die lig sien.
Nico Steenekamp van Stilbaai-parkrun het alreeds die roete gaan uitmerk en volgens professor John Spence van Albertinia is dit ’n baie lekker roete met ’n hele paar op- en afdraandes, maar is geskik vir die hele gesin.
Spence, die dryfveer agter die Gouritzrivierparkrun, is baie opgewonde en kannie meer wag dat die roete goedgekeur word en hulle hul toerusting ontvang nie.
Die spesifieke parkrun is beplan om drawwers en stappers van Albertinia en Gouritsmond te akkommodeer, maar sal beslis ook deelnemers van ander streke lok en enige parkrun-deelnemer is welkom om by die Bon Game Reserve te kom deelneem.
Volgens Nico behoort alles teen 15 Junie in plek te wees, maar daar sal gereelde kommunikasie wees om mense ingelig te hou.
Parkrun is 'n wêreldwye gebeurtenis waaraan miljoene mense deelneem en die talle parkrun-roetes in Suid-Afrika lok elke Saterdagoggend duisende mense om die 5 km-roete te draf of te stap.
Dit kos niks om deel te neem nie en daar is geleentheid vir alle fiksheidsgrade om in ’n pragtige omgewing te stap of te draf.
Riversdal het ook beplan om ’n parkrun roete uit te lê, maar dit het ongelukkig nog nie gerealiseer nie. Hopelik sal die Gouritzrivier-inisiatief weer nuwe lewe blaas in die Riversdal-planne.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’