HEIDELBERG NUUS - ’n Jong pa van twee, waarvan die jongste haar voorberei het vir die matriekeindeksamen, het Sondagaand, 20 Oktober, tragies gesterf toe hy deur ’n motor op die N2 net buite die dorp getref is.
Dié ongeluk waarin Jacob Armoed (43) op die toneel aan sy beserings beswyk het, het ongeveer 21:00 gebeur terwyl hy op pad huis toe was waar hy op die plaas Krombeksrivier werksaam was.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, is die oorledene op die toneel dood verklaar nadat hy glo deur ’n perskleurige VW Golf getref is.
’n Klag van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.
Sy vrou Maria, vertel dat hy volgens vriende by wie hy vroeër die dag gekuier het, met groot lof van sy dogter, Bernelee, gepraat het oor hoe trots hy op haar is nadat sy onlangs haar aanlegtoets by 'n kollege in Stellenbosch met vlieënde vaandels geslaag het.
Jacobs is op Saterdag 2 November vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk Oos begrawe.
Benewens Maria en Bernelee, laat hy ook sy seun, Ralldon, en 'n kleinseun agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’