RIVERSDAL NUUS - Vrouemaand is Vrydag, 26 Augustus op gepaste manier deur dames wat tans op parool is, afgesluit deur bejaarde vrouens by Jan Lange-tehuis te bederf.
Die projek was onder die toesig van Liezel Cooper, paroolbeampte van Hessequa-gemeenskapkorreksies (GEMKOR) uitgevoer.
Sewe dames het ongeveer 12 senior burgers bederf deur hulle voete te was, dit met allerlei rome in te vryf, asook om hulle hande en naels te versorg.
"Die doel van die projek is om die dames weer deel van die gemeenskap te maak. Dit help hulle ook om hulle waardigheid en respek vir hulself op te bou, maar ook om in die gemeenskap terug te ploeg," verduidelik Cooper.
"Om die doel te bereik loods ons verskillende projekte op 'n maandelikse basis in die gemeenskap met mans óf vrouens wat op parool uit is."
Die hoogtepunt van die dag was dat een van die inwoners, Stella Burger haar 89ste verjaarsdag gevier het. Sy is reeds die afgelope 19 jaar in die tehuis.
Stella kom aanvanklik van Swellendam en sy het twee kinders, Francois woon in Kanada en Magda in Stilbaai.
Liezel Cooper (agter, middel) en twee inwoners van Jan Lange staan by die dames wat die liefdestakies verrig het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'