RIVERSDAL NUUS - Die ou Joodse pastorie in Barrystraat is weer 'n pêrel in die erfenishalsnoer van die dorp se argitektuur, nadat dit weer tot sy oorspronklike toestand gerestoureer is.
Die pastorie is verbind met die Joodse inwoners van die dorp wat 'n reusebydrae tot die vooruitgang van die dorp gelewer het. Op 8 Desember 1855 verkoop die 'Church wardens of the DRC of Riversdale' lot nr. 2, blok K aan die Riversdal-munisipaliteit.
Op 23 Maart 1904 koop die 'Riversdale Hebrew Congregation of Riversdale' erf nr. 3191 by die Riversdal-munisipaliteit. Die voorsitter van die gemeente was Abraham Dov Samuels vanaf 1902-1932.
Die Joodse skool is in 1924 gebou, met 'n pragtige ster van Dawid op sy dubbeldeur. In 1927 word die huis gebou en word dit vanaf 1951 verhuur. In 1958 is die sinagoge en saal gerestoureer.
Die gemeente besit die eiendom tot in 1986. Die huidige eienaar, sakeman Jannie van Wyk het die vervalle eiendom in 2017 gekoop en dit pragtig gerestoureer. Dit spog met 'n nuwe sinkdak, die fondasiestruktuur is skoongemaak om die pragtige klipwerk ten toon te stel, die skuifraam vensters is herstel en al die oregon-houtvloere, deure en kosyn is skoongeskuur. Die elektriese bedrading, asook die geute en afleipype is vervang.
Die vervalle tuindraad is verwyder en is dit omskep in parkering. Die ou skool gebou is vroeër gebruik deur die Sylva-broers as gimnasium en het die plaaslike ANC-tak dit as kantoorruimte gebruik.
... en klaar. Foto's: Keith Eksteen, korrespondent
Die huidige huurder van die ou pastorie is die plaaslike ANC-kantoor en die ou skool word vir sakedoeleindes uitverhuur.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'