RIVERSDAL NUUS - Die jong Voortrekkers van die Otter-span (gr. 0 tot 3) van die Riversdal-kommando het ’n baie leersame en prettige middag beleef toe hulle onlangs meer oor padveiligheid geleer het.
Die verkeersdepartement het hulle besoek en op ’n kindervriendelike manier verduidelik hoe verskeie verkeersreëls werk.
Die kinders het onder andere geleer hoe om veilig by stopstrate stil te hou, hoe om ’n verkeersirkel te gebruik, en hoe om oor ’n sebrastreep te stap.
Alles is prakties verduidelik, en die kinders het sommer self probeer om die reëls in die regte omgewing toe te pas.
Die geleentheid het by die nuwe fietsbaan oorkant Dibiki plaasgevind, waar die kinders in ’n veilige en prettige omgewing kon leer.
Hul spanoffisier, Anja Louw, het gesê dat dit belangrik is dat kinders reeds van kleins af bewus gemaak word van hoe om hulself veilig op paaie te gedra.
“Ons is baie dankbaar vir die verkeersdepartement se betrokkenheid en dat hulle op so ’n vriendelike manier met die kinders gesels het,” het sy gesê.
“Ons het baie geleer én baie pret gehad!”
Die dag is afgesluit met speletjies op hul fietse om die reëls in praktyk toe te pas - ’n ervaring wat die Ottertjies seker lank sal onthou!
Die Otters wat Maandag ’n les in padveiligheid gekry het is Zani Louwrens, Mauritz Holtzhausen, Izabella de Kock, Charlett du Plessis, Mioné Smit, Gideon van Heerden, Minke Smit, Esrie Marais, Johannes Saayman, Jaco Louw, Luwan Barnard, Logan Muller, EW Kitching, Mari Mostert, Stephan Heyns, Gabriella Priem, Milané Barnard. Agter is voortrekkeroffisier Anja Louw, Quinchell Brown en Keneilwe Matlejoane (verkeersdepartement).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’