RIVERSDAL NUUS - 'n Nuwe besigheidsentrum in Kwanokuthula sal nie net opkomende entrepreneurs 'n hupstoot in die sakewêreld gee nie, maar sal ook vir inwoners 'n aangename koopervaring na hul voorstoep bring.
Die Kwanokuthula-besigheidsentrum is Dinsdagoggend amptelik deur Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, geopen.
Verskeie raadslede en die vier nuwe winkeleienaars van dié besigheidsentrum was ook teenwoordig.
Die sentrum is teen 'n koste van R2,6 miljoen opgerig in 'n gesamentlike projek van Hessequa-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van ontwikkeling en toerisme.
Die vier nuwe winkels het 'n bakkery, klere- en skoenwinkel, 'n supermark en ook 'n kafee wat in wegneemetes spesialiseer. Vir inwoners van Kwanokuthula wat sukkel met vervoer sal die winkels 'n groot en gerieflike uitkoms bring.
Riddles het gesê dis vir Hessequa-munisipaliteit 'n trotse oomblik om die Kwanokuthula-besigheidsentrum uiteindelik te kon open. "Dit is inderdaad 'n belangrike geleentheid aangesien dit een van die groot mylpale in die voortgesette ontwikkeling van kleinsakeondernemings vir Hessequa-streek is."
Hy het gesê die projek is bedoel om vrugbare grond te skep vir entrepreneurs om te floreer en opkomende sakemanne en -vroue te help om hul drome te verwesenlik. "Ek weet die nuwe besigheidsentrum sal 'n groot sukses wees tot voordeel van ons Kwanokuthula-inwoners.
"Baie dankie aan elke rolspeler wat betrokke was by die projek.
"Dit verbly my hart om die trots en opgewondenheid van elke begunstigde te kan sien. Ek wens u elkeen baie sterkte toe op die pad vorentoe. Onthou, wat u insit is wat u gaan uitkry."
Die uiteindelike doel van die besigheid-sentrum is om opkomende entrepreneurs toe te rus met die nodige vaardighede en hulle te ondersteun sodat hulle 'n sukses van hul onderskeie besighede kan maak.
Op die langtermyn kan die suksesvolle sake-eienaars dan inskuif na Riversdal se sentrale sakekern om plek te maak vir 'n nuwe groep opkomende entrepreneurs.
Tinus van den Berg (links), onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, en Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, bewonder die vars gebak in een van die vier nuwe winkels in die Kwanokuthula-besigheidsentrum.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'