RIVERSDAL NUUS - Dit is Woensdag, 29 Mei 2024. Die plein voor die burgersentrum is blou. Hier word DA-ondersteuners verwelkom.
Alles is gereed vir die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing.
Volgens die OVK het sowat ‘n miljoen kiesers spesiale stemme uitgebring; meer as nog tevore. Alle aanduidings is dat meer mense vanjaar gaan stem. Dit geld ook die Hessequa-streek waar 35 395 uit 51 027 stemgeregtigdes suksesvol geregistreer het.
Die temperatuur kan vandag tot 31 grade styg. Neem ‘n sambreel en baie water saam. Hoewel dit nie verpligtend is nie, stel die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging voor dat mense maskers sal dra, weens ‘n nuwe voorkoms van ‘n griepvirus.
Hier is ‘n paar dinge wat jy moet weet:
* Jy kan slegs stem in die stemdistrik waar jy geregistreer is.
* Neem ‘n grondige identiteitsdokument saam. Paspoorte en rybewyse word nie aanvaar nie.
* Jou ID-bewys sal geskandeer word, jou naam op die kiesersrol geverifieer word en jou linkerduim sal met ink gemerk word.
* Mense wat hulp nodig het met die stemproses sal deur die kiesbeamptes ondersteun word. Jy mag ook die hulp van ‘n metgesel, ouers as 18 jaar, gebruik.
* Vanjaar sal kiesers drie stembriewe moet invul, pleks van die gewone twee waaraan hulle gewoond is. Vir die eerste keer vanjaar word onafhanklike kandidate toegelaat om aan die verkiesings deel te neem. Om hierdie verandering te akkommodeer, sal kiesers op drie stembriewe, pleks van twee, stem.
* Maak seker al jou stembriewe is agterop gestempel.
* Nadat jy jou drie kruisies getrek het, word die stembriewe toegevou en in die stembriefhouer gestoor.
* Jou stem bly jou keuse en dit is privaat.
Kiesers kan nog tot om 21:00 vanaand by een van die streek se 25 stemstasies stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’