Update
STILBAAI NUUS - Die opening van hul 18de winkel in die Wes-Kaap was vir Solidariteit Helpende Hand op Dinsdag, 6 Julie 'n heuglike dag. Die nuwe Ons Winkel is in Perdekuillaan in Stilbaai geleë.
Die naam, Ons Winkel is heel gepas omdat die winkels uit die gemeenskap, vir die gemeenskap is.
"Die visie van Helpende Hand is om deur maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling die eise en uitdagings van kwesbare groepe, naamlik kinders, bejaardes, persone met gestremdhede en gesinne die hoof te bied," verduidelik Anne-Marie Hughes, konsessiehouer.
"Studiefondse word onder andere geskep en onderhou en 'n span maatskaplike werkers is in diens van Helpende Hand om met gemeenskapsontwikkeling behulpsaam te wees."
Die winkel maak absoluut op skenkings vanuit die gemeenskap staat en meubels, linne, klere, kombuisware, elektriese toebehore, hangers en enigiets wat in jou pad is, is welkom.
Hughes, wat reeds twee sulke winkels, naamlik in Riversdal en Heidelberg bedryf, is baie opgewonde met die moontlikhede wat Stilbaai bied.
Die opening is deur Hennie Rossouw, areabestuurder van Ons Winkel in die Wes- en Suid-Kaap waargeneem.
Hy het gesê dat hierdie winkel van krag tot krag sal gaan. "As iemand om watter rede ookal gaan lê, kan hulle opstaan en voor begin, want die Here los ons nooit alleen nie."
"Komaan Stilbaai, kom ons maak ons harte oop vir hierdie wonderlike inisiatief. Almal van ons het goed wat in ons pad staan en klere wat ons nie meer dra nie. As jy dit nie hier kan afgee nie, skakel ons (083 704 9917) sodat ons dit kan gaan haal," vra Hughes.
Die winkel is baie netjies en gerieflik uitgelê. Foto: Johan Victor
Vorige artikel: Ons Winkel ook in Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'