HESSEQUA NUUS - Reënskade word op die onderskeie dorpe in die Hessequa-streek ervaar deur die kitsvloed-situasies weens die ongure weerstoestande.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is nooddiens-personeel op Gouritsmond, Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein ontplooi.
“Die paaie wat geaffekteer is, word deur die verkeer en polisie gemonitor en gereguleer,” sê Didi Budricks, munisipale woordvoerder.
Hoofweg in Jongensfontein is gesluit omdat die padreserwe weggekalwe het en oornag deur die swaar reën vererger is. Omdat dit ‘n provinsiale pad is, word dit deur die provinsiale padingenieur hanteer.
Die munisipaliteit is besig met die herstel van watertoevoer wat beskadig is.
Drie persone wat huise in Gouritsmond moes ontruim as gevolg van haelskade, is deur ‘n gastehuis van slaapplek voorsien. Tydelike noodbehuising is ook aan 10 ander inwoners voorsien weens haelskade aanhul wonings. Seile word tans uitgedeel aan inwoners wat haelskade aan hul dakke opgedoen het.
Probleme met krag- en watertoevoer as gevolg van die weerstoestande word op verskeie dorpe ervaar en word hanteer soos dit opduik. ‘n Beroep word op inwoners gedoen om enige probleem ten opsigte van dienstevoorsiening onverwyld onder die betrokke wyksraadslede se aandag te bring.
“Ons bedank die publiek vir hulle geduld tydens enige diensonderbrekings en gee die versekering dat die herstel daarvan prioriteit geniet,” het Grant Riddles, uitvoerende burgemeester gesê.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'