RIVERSDAL NUUS - “Aan varkvleis, brood en Duitse norsheid het ons nou genoeg; ‘n lewenslange herinnering!” sug Abrie de Wet tevrede ná twaalf dae weg van sy plaas.
Dié boer is die welwillende spanbestuurder van Oakdale se Protea-kampioenspan wat pas die derde keer as die wêreld se beste toutrekkers in die 560 kg-gewigsafdeling vir o. 19-mansatlete by Internasionale Toutrekfederasie (Twif) se wêreldkampioenskap in Duitsland gekroon is.
Hy sê die organisasie en geriewe by die Alsenwegen-stadion in Mannheim was puik, maar die veldoppervlak het die toutrektoestande bemoeilik. “Die span wat die gouste moeg geword het, het in die stof gebyt. Dit verg uithouvermoë!”
Sowat 10 000 toeskouers het die reuse-paviljoen volgepak om die toutrekstryd tussen sowat 1 500 atlete van 25 lande van 5 tot 8 September te aanskou.
Hy sê die verblyf was die beste nóg wat hulle die afgelope drie jaar in die buiteland ervaar het. “Die akkommodasie was baie gerieflik en die kos was goed. Die baie varkgeregte en ‘n oorvloed aan brood was egter nie almal se smaak nie. Min bees en geen skaap nie. Ons vleistande is getrek!”
Daar was ook uitdagings en teleurstellings. “Die inwoners se gesindheid teenoor toeriste is nie goed nie. Ek weet nie of Duitsers inherent morbied of net plein onbeskof is nie, maar hulle is nors en nie juis behulpsaam nie.
Jy kon nogal verder kom as jy Afrikaans gepraat het; in Engels geensins nie.”
Abrie sê daar is wéér lesse uit dié Europese oefening geleer: “Piet Lourens, die afrigter, se leuse is ‘oefen-oefen-oefen.’ Hy sê ook ‘wees voorbereid én, veral: aanpasbaar’. Dit weet ons, want ons wás. Die res van die wêreld wéét dit ook nou!”
Oakdale se toutrek-wêreldkampioene. Agter Abrie de Wet (spanbestuurder), Lourens Brand, Nico Geldenhuys, Wihen Conradie, Zander Groenewald, Simeon Botha, Francois Janse van Rensburg. Voor: Kobus du Plessis, Steyn de Wet (kaptein), Andreas Müller, Henk Meyer, Divan Sprong, Jandré Aucamp en Ivan van Zyl (die biokinetikus).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’