HESSEQUA NUUS - Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga het op 16 Julie aangekondig dat robotika, kodering en Swahili deel van die kurrikulum vir grade R tot 9 gaan word.
Suid-Kaap Forum het 'n paar skole in Hessequa vir hul kommentaar oor die aankondiging genader.
Laerskool Bertie Barnard
Die hoof van Laerskool Bertie Barnard op Stilbaai, mnr. Nicky Deetlefs, is seker dat die nuwe vakke tot voordeel van die leerders sal wees. Hy twyfel nie dat opvoeders goed toegerus sal word vir die nuwe materiaal nie. Deetlefs grond dié mening op die werksessies en opleiding waarmee opvoeders reeds voorberei word om isiXhosa aan te bied. Hy reken ook die duur nuwe toerusting sal nie addisionele veiligheidsrisiko's skep nie.
Hoërskool Langenhoven
Volgens mnr. Hardy de Beer van Hoërskool Langenhoven op Riversdal het skole nog geen inligting direk vanaf die departement van onderwys ontvang nie. Hy wys daarop dat die drie vakke nie gelyktydig ingevoer sal word nie, dus glo hy skole sal kans kry om voor te berei.
Melkhoutfontein Primêre skool
Mev. Ruby Flores, hoof van Melkhoutfontein Primêr is van mening dat skole nie gereed is om nog vakke te akkommodeer nie. Volgens haar is alle grade se kurrikulums oorlaai en onderwysers vind dit dikwels moeilik om al die werk af te handel.
Die implementering van isiXhosa in die grondslagfase is reeds vir die leerders 'n aanpassing en sy voorsien dat die byvoeging van Swahili groot verwarring sal veroorsaak. Sy bepleit eerder die skep van vaardigheidskole om die leerders vir die arbeidsmark voor te berei.
Kairos Senior Sekondêre skool
"Tot op hierdie stadium het ons maar min inligting oor die aanbieding van die vakke ontvang, maar dit word blykbaar eers by laerskole geïmplementeer," sê Vivian Prins, hoof van Kairos Senior Sekondêr op Heidelberg.
"Ons is nog nie gereed om die vakke aan te bied nie want ons rekenaarinfrastruktuur - 'n lokaal met 20 rekenaars - is te beperk om die vakke vir al die leerders te hanteer. Teorieklasse kan moontlik plaasvind, maar sover ek weet is daar nog nie met die opleiding van opvoeders begin nie."
Hy is ook skepties oor die insluiting van Swahili. "Onderrig in die taal sal in ons omgewing nie die moeite werd wees terwyl ons kinders se lees- en skryfvermoëns in Afrikaans en Engels nie eens op standaard is nie. Opleiding van opvoeders in die vreemde taal het ook nog nie begin nie."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'