RIVERSDAL NUUS - Dorpenaars word genooi om die treinspoor dié Saterdag skoon te sny. “Bring jou handskoene, hoed en bossiekapper saam en kom help ons om ons mooi dorp op te kikker!” vra Vivian Louwrens, die voorsitter van AfriForum se Hessequa-tak.
Dié tak het al vantevore verskeie skoonmaakprojekte met welslae in Heidelberg voltooi en het onlangs ook gebiede in Albertinia en Riversdal opgeruim. Vrywilligers het gehelp om bome by skole te plant en ‘n skoolgroentetuin in Heidelberg te vestig.
“Een van AfriForum se doelwitte is om 'n skoon en veilige omgewing vir die gemeenskap te skep. ‘n Mooi omgewing bied groter veiligheid. Ons glo in #Selfdoen, eerder as om te wag en te kla tot iemand ánders dit doen,” sê Louwrens.
Dit is hoofsaaklik ‘n inisiatief van die tak, maar die hele gemeenskap is welkom om betrokke te raak en ‘n verskil te maak.
Hy sê hoewel die skoonmaak en netheid van die streek se dorpe die Hessequa-munisipaliteit se plig is, het hy begrip vir die beperkte hulpbronne en gebrek aan tyd.
Die jeugtak het vroeër vandeesmaand die sakekern en ‘n gedeelte van die stasie en treinspoor aangedurf en die ruimtes netjies opgeruim. Hulle motto was: “As óns kan, kan álmal!”
Almal is welkom om Saterdag te kom help. Die vrywilligers ontmoet negeuur op die hoek van Osler- en Heidelbergweg. Daar sal tot omtrent twaalfuur gewerskaf word.
* Soortgelyke skoonmaakprojekte word na ander dorpe in die streek uitgebrei. Saterdag 19 Oktober is dit Albertinia se beurt, gevolg deur Heidelberg op Saterdag 26 Oktober.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’