STILBAAI NUUS - “Die skemerkelkpartjie Vrydagaand was opwindend gesellig en Saterdagoggend het kunsliefhebbers en nuuskierige toeriste in groot getalle by die gemeenskapsaal kom inloer,” sê Marisa de Lange, die organiseerder van vanjaar se ‘Kuierkuns’-tentoonstelling.
Altesaam 23 van die kunstenaars van die Hessequa-streekkunsroete het by dié jaarlikse aanbieding op die toerismekalender met nagenoeg 200 van hul kunswerke gespog.
Naas skilderye en sketse in akriel, olieverf, waterverf, potlood en steenkool, was daar vanjaar ook ‘n stewige aanbod van fotografie, keramiekkuns en beeldhouwerk.
Talle kunswerke is verkoop. Toeriste was bereid om hul beursies oop te maak om ‘n stukkie Stilbaai en die uitbeelding van die omliggende natuur huis toe te neem.
Skilderye wat die see, kusdorphuisies, die berge en fynbos uitbeeld, het tuistes gekry.
Dina Grobler se skeppinge van sand en water, berei in klei en versterk deur vlam en vuur om porselein en keramiek te skep - gekomplementeer en afgerond met dryfhout en draad - het besoekers verras.
Tussen die opwindende werke was Rentia Roodt se byderwetse interpretasie in parodie-styl van bekende handelsmerkprodukte, waarvan sommige nie meer beskikbaar is nie. Haar werke lewer vlymskerp-kommentaar op gulsige vleisvreters. ‘n Bul, ‘n ram en ‘n donkie kán anders lyk as hulle ‘n blik sardientjies, ‘n bottel tamatiesous, ‘n pak meelblom en ‘n botteltjies soutsmere geverf word...
* Die uitstalling duur nog tot eenuur vanmiddag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’